|

Laeveld kry ’n hupstoot met AfriForum hulp

AfriForum se plaaslike strukture in die Laeveld is nie bang om hul hande vuil te maak nie.

Die jeugvleuel van AfriForum se Nelspruit-tak het in Februarie ’n skoonmaakaksie geloods en die eerste van ’n reeks opgraderings by die Pro Gratia-skool begin wat die opknapping van stoepe en klimrame insluit. Die jeugvleuel beplan om in Mei verdere werk by dié skool te verrig.

“Organisasies en instellings soos Pro Gratia, wat fantastiese werk vir kinders doen, het ondersteuning en hulp vanuit die gemeenskap nodig. Die grootte van die werk wat gedoen word maak nie noodwendig saak nie, want dit vat baie druppels om een emmer vol te maak,” meen Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Bethal-tak is ook hard aan die werk om die dorp ’n beter en skoner plek vir inwoners te maak.

Hul jaarlikse slaggatprojek het onlangs weer afgeskop en 240 sakkies teer is reeds gebruik. Taklede het slaggate in Ribbok- en Blesbokstraat herstel.

Verder is verskeie aksies geloods om die netheid van die dorp te verbeter. Gras is rondom die Bethal-polisiestasie, die N17 en ook om die Nestlè-brug gesny. ’n Kontrakteur is die laaste paar maande gebruik om gereelde skoonmaakaksies in die sentrale sakesektor van Bethal te behartig.

“Die lang gras wat die dorp begin oorneem het, is ’n groot veiligheidsrisiko. Kriminele gebruik dié gebiede om gesteelde goedere te versteek en ook om van die gereg te ontglip. “Inwoners word gevra om te help deur die gebiede in die dorp met lang gras te help onderhou. As elke inwoner sy deel doen, sal ons die dorp vinnig netjies kry,” meen Bekker.

Die rotstuin wat ’n paar jaar gelede aangebring is, is ook weer skoongemaak en AfriForum se Bethal-tak hou dit gereeld netjies. Die hoek van Kieser- en Du Plooystraat is ook beveilig deur borde aan te bring wat motoriste daarop wys dat dit doodloop. Dit is gedoen ná ’n ongeluk daar plaasgevind het.

“Die dorp se netheid is vir ons belangrik en juis daarom gaan ons nog asblikke aanbring by punte wat ons geïdentifiseer het. Ons neem eienaarskap van die probleme in Bethal en los dit self op,” sê Ingrid Human van AfriForum se Bethal-tak.

Verder was die Witrivier-tak ook hard aan die werk by die Witirivier Polisiestasie waar hulle strukture wat uit herwinde staal gemaak is, opgerig het om te verhoed dat mense uit vangwaens ontsnap.

“Dit het onder ons aandag gekom dat die polisie ’n struktuur nodig het om te verhoed dat gevangenes ontsnap wanneer hulle afgelaai word. Nou kan die vangwaens binne die struktuur parkeer en dit sluit voor hulle die gevangenes aflaai.”

Raak vandag nog by dié takke betrokke en help om ’n verskil te maak. SMS jou naam na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings