|

Kyk (video): Clive Derby-Lewis se laaste onderhoud deur Forum Films vrygestel

“Clive Derby-Lewis het geen geheime graf toe geneem nie.”

Só meen Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films, die videovervaardigingsmaatskappy wat vandag die eerste deel van ’n eksklusiewe onderhoud met die veroordeelde moordenaar Clive Derby-Lewis op hul webblad gepubliseer het.

Volgens Roets is dié onderhoud, wat in September 2016 verfilm is, die enigste onderhoud wat Derby-Lewis sedert sy vrylating op mediese parool in Junie 2015 toegestaan het.

Dit was ook Derby-Lewis se laaste onderhoud voor sy dood.

Roets, wat die onderhoud met Derby-Lewis gedoen het, verduidelik dat dit oorspronklik verfilm is met die idee om ’n dokumentêr oor die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) te vervaardig.

Ná Derby-Lewis se dood het Forum Films egter besluit om eerder die volledige onderhoud te publiseer.

Derby-Lewis, ‘n voormalige Suid-Afrikaanse parlementslid, eers vir die Nasionale Party en toe vir die Konserwatiewe Party, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens sy aandeel in die sluipmoord op die SAKP-leier, Chris Hani.

Hy en Janusz Waluś, wat Hani geskiet het met ʼn vuurwapen wat deur Derby-Lewis verskaf is, is albei aanvanklik die doodstraf opgelê. Dit is na lewenslange tronkstraf verander toe die doodstraf afgeskaf is.

“Dit is welbekend dat Derby-Lewis ’n oortreder was. Die onderhoud maak dit duidelik dat hy op sy eie manier ook ’n slagoffer was. Dit is belangrik dat die stellings wat Derby-Lewis in die onderhoud maak, gepubliseer word sodat dit in die geskiedenis opgeteken kan word,” meen Roets.

Hy voeg by dat dit Derby-Lewis se wens was dat die onderhoud ná sy dood gepubliseer word.

Die onderhoud is sowat 70 minute lank en word in vier dele aangebied.

Die eerste deel, wat oor die ANC/SAKP-, KP/NP-politiek en die referendum van 1992 handel, is vandag op Forum Films se webblad gepubliseer.

Die res van die onderhoud sal deur die loop van die week gepubliseer word.

Soortgelyke plasings