|

(Kyk Video): AfriForum eis antwoorde oor repatriasievlugte en selfisolasie van terugkerende Suid-Afrikaners

 

Die Covid-19-krisis het reeds so baie angs geskep, ons vra baie mooi dat die regering nie dinge vir ons vererger nie. Van die mense in die buiteland het hul werk verloor en gaan binnekort sonder ’n dak oor hul kop sit as daar nie dringend ingegryp word nie.

Dít is die pleidooi van Angelique van der Walt, ’n Suid-Afrikaanse student wat tans, soos talle ander Suid-Afrikaners gerepatrieer moet word, maar weens swak kommunikasie van die Suid-Afrikaanse regering geen sekerheid het oor wanneer sy na haar tuisland sal kan terugkeer nie.

AfriForum het gisteraand ’n dringende prokureursbrief aan onderskeidelik die Minister van Gesondheid, van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, en van Openbare Werke gerig om te eis dat Suid-Afrikaners wat gerepatrieer word meer gereeld en duidelik van die reëlings vir hul terugkeer ingelig word.

Die organisasie eis ook dat dié Suid-Afrikaners en ander wat oor land vanuit die buiteland terugkom die reg moet hê om so gou moontlik vir Covid-19 getoets te word én om in selfisolasie te gaan as hulle wel kan selfisoleer.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, volg dié eise op verskeie gevalle die afgelope week van terugkerende Suid-Afrikaners wat op lughawes gestrand gelaat word weens gebrekkige kommunikasie oor repatriasievlugte en die staat se onvermoë om kwarantynfasiliteite gereed te hê. “Al dié onsekerheid is besig om van die humanitêre proses om mense huis toe te bring eintlik ’n verlenging van hul ontbering te maak, wat geheel en al onnodig is.”

Wat kwarantyn betref, noem Bailey dat mense in ’n wyd uiteenlopende verskeidenheid van fasiliteite aangehou word. “Die tydperk van aanhouding wissel: Sommige bly slegs enkele dae daar; ander die volle veertien dae; ander na bewering selfs langer. Sommige word dadelik getoets vir Covid-19; ander eers ná etlike dae; ander glad nie. Dit is ’n deurmekaarspul wat mense weer eens emosioneel aftakel.”

Volgens Sue-Ann de Wet, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Diaspora by AfriForum, is gereelde en duidelike kommunikasie noodsaaklik om verwarring te vermy. “Tans spartel mense om inligting te kry. Uit desperaatheid kontak hulle dan die departement, lughawe, lugredery en ander Suid-Afrikaners op sosiale media. Die gevolg is teenstrydige berigte, vals gerugte en nog meer probleme. As hulle kan staatmaak op kommunikasie van die departement op vaste tye wat duidelik en omvattend is, sal hierdie probleme voorkom word en vertroue in die proses beduidend verbeter.”

Lauren Viljoen, ’n Suid-Afrikaner wat by familie in Namibië gekuier het, sê hoewel sy in ’n gebied is waar daar nog geen gevalle van Covid-19 was nie, wag sy al meer as ’n week op dokumente om oor die grens te kan gaan. “Ek is nou al langer as 40 dae in Namibië en sal graag wil terugkeer na my familie toe omdat my ma op die oomblik ernstig siek is.”

Joanita Badenhorst, ’n biokinetikus, sê dat sy weens die inperking al meer as ’n maand geen inkomste het nie en dringend moet terugkeer huis toe. “Al antwoord wat ons van die regering kry, is dat ons moet wag en geduldig wees.”

Indien die departemente nie teen die einde van vandag op AfriForum se skrywe reageer nie, sal AfriForum verdere regstappe doen.

Vir meer inligting besoek Wêreldwyd se webtuiste by www.wereldwyd.co.za of besoek Wêreldwyd se Facebook-blad by https://web.facebook.com/wereldwyd.co.za/

Soortgelyke plasings