|

Kyk: Saai dien strafregtelike klag in ná buitensporige grondtransaksie deur die GEPF

Saai, ’n organisasie wat die belange van familieboere beskerm, het vandag namens een van sy lede strafregtelike klagtes by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria ingedien nadat die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) R586,5 miljoen betaal het vir ’n 60%-aandeel in ’n stuk landbougrond van 1 028 ha.

Die lid van Saai, Jaco Engelbrecht, is ’n deeltydse boer en onderwyser van Koffiefontein wat maandeliks tot die GEPF bydra. Saai het ook die saaknommer aan die Valke se eenheid vir ernstige misdaad deurgegee.

Dié transaksie het onder Saai se aandag gekom nadat ’n advertensie in Landbouweekblad se uitgawe van 31 Januarie 2020 gepubliseer is. Dit is aanvanklik geadverteer dat plase IP (564) van 481 ha en Palmietfontein (403) van 547 ha albei deur die GEPF gekoop is. Die titelakte dui egter aan dat die GEPF slegs 60% van erfdeel 97 van Palmietfontein (403) en IP (564) teen ’n waarde van R586,5 miljoen gekoop het. Die twee plase is buite Klerksdorp in Noordwes.

Dit kom daarop neer dat ’n buitensporige sowat R570 000 per hektaar betaal is terwyl die algemene prys vir soortgelyke grond in die omgewing minder as R20 000 is.

Die stad Motswala het erfdeel 97, wat 547 ha beslaan, in 2007 vir ongeveer R10 miljoen aan Isago@N12 Development Pty. Ltd. verkoop. Die stad se 2016/2017-waardasierol toon die eiendom was in dié stadium vir R16,55 miljoen gewaardeer. IP (564) is in 2007 vir R8,75 miljoen in dieselfde transaksie gekoop en die stad se 2018/2019-waardasie vir die grond was R8,97 miljoen.

Volgens die titelakte is 60% van albei plase op 27 Junie 2019 as landbougrond aan die GEPF verkoop teen ongeveer R586,5 miljoen.

“Daar is ’n 2 198%-prysverskil tussen die waardasiepryse en die prys waarteen die pensioenfonds dié grond vir staatsamptenare aangekoop het. Dit is leë landbougrond wat gekoop is met die oog op verdere ontwikkeling. Die GEPF is ’n entiteit wat veronderstel is om regeringsamptenare se pensioenfondse eerlik en verantwoordelik te bestuur. Om so ’n reuse-eskalasie vir die transaksie te betaal, kan vir seker nie as eerlik óf verantwoordelik beskou word nie,” meen Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Isago Holdings Pty. Ltd. het ’n 40%-aandeel van die erfdeel 97-ontwikkeling ontvang, teen nul rand. Met die staatspensioenfondstransaksie is die waarde van hul aandele nou R340 miljoen,” voeg Rossouw by.

Luidens mediaberigte het die mededingingstribunaal die verkoop van die grond reeds in 2018 goedgekeur. Volgens die tribunaal wil die GEPF die grond vir eiendomsontwikkeling gebruik. Dit grens aan die N12.

Die VF Plus het intussen gesê daar is baie vrae oor die omstrede transaksie en die GEPF moet verduidelik waarom so ’n buitensporige bedrag vir die grond betaal is, wie dit goedgekeur het wanneer en hoe dit bekom is.

Wouter Wessels, VF Plus se woordvoerder oor finansies, het gesê daar is tydens ’n besoek aan die plase vasgestel dat daar nog geen ontwikkeling plaasgevind het nie.

Soortgelyke plasings