|

KwaZulu-Natal se vullisterreine in haglike toestand

AfriForum het vanjaar 135 vullisterreine landwyd geoudit as deel van die organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs een van die agt vullisterreine wat in KwaZulu-Natal geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in KwaZulu-Natal:

Naam van tak/vullisterrein Munisipaliteit/ verantwoordelike instelling Lisensienommer Nakomingstelling (%)
KwaZulu-Natal: 2015 2016 2017 2018 2019 2020
Hluhluwe The Big Five False Bay PM 24 0 20 2 0
Margate Ray Nkonyeni PM 16/2/7/T402/DS/Z1/P26/A1 70 96 96
Newcastle Newcastle PM 16/2/7/3V301/B2/Y2/P476 80 80 80 88 60
Paulpietersburg eDumbe PM 4 16 14 10 14 4
Pongola uPhongolo PM DC26/WML/0001/2014 68 54 68 52 38
Richardsbaai uMhlathuze PM B33/2/2112/006/P245 60
Utrecht eMadlangeni PM 32 68 16 7 0 12
Vryheid AbaQulusi PM 40 32 41 24 3 6

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining, rehabilitasie en dies meer in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, is die meeste vullisterreine in KwaZulu-Natal in ’n haglike toestand wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan plaaslike regerings wat hierdie belangrike diens afskeep. “Dit wil voorkom asof die bestuur van vullisterreine nie as belangrik geag word nie en dat munisipaliteite hulle nie steur aan die gesondheid van die omgewing nie.”

Van Aswegen sê voorts die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die algehele wanbestuur van die terreine. “Die toestand van vullisterreine behoort drasties aandag te geniet.”

AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter. AfriForum gaan ook ná afloop van die projek ’n vergadering met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, belê om terreine te identifiseer sodat dit herstel en weer op peil gebring kan word.

Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen munisipaliteite wat nie aan die vereistes voldoen nie. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings