|

Kuruman-buurtwagte leer baie oor eie veiligheid

Twaalf sektorleiers van die Kuruman-buurtwag het pas ’n kursus in veiligheidsopleiding voltooi.Kuruman in die Noord-Kaap gaan reeds geruime tyd onder erge misdaad gebuk, maar sedert AfriForum, burgerregte-organisasie, met die uitbreiding van buurtwagte begin het, is daar ’n drastiese afname in voorvalle, sê Ettienne Louw, voorsitter van die buurtwag.

Die buurtwag het sowat 500 lede en is baie aktief in die voorkoming en bekamping van misdaad deur patrollies wat gereeld gery word. Van die grootste probleme wat ondervind word, is motordiefstal en huisbrake.

Louw het gesê die reaksie-kursus wat Dynamic Alternative vir sektorleiers aangebied het was baie sinvol en ’n groot bonus. “Ons het veral baie geleer ten opsigte van optrede volgens wetgewing, die hantering van vuurwapens, wanneer en hoe arrestasies uitgevoer mag word en hoe om selfverdediging toe te pas.”

Louw het gesê die opleiding help die gemeenskap ook baie om die polisie in die stryd teen misdaad te help. “Daar is steeds groot uitdagings, maar waar ons kan probeer ons samewerking verbeter.”

Gonda Louw, AfriForum se koördineerder vir Kuruman en Kathu, het gesê die buurtwag is baie opgewonde en positief oor die opleiding. “Ons weet sonder twyfel dat dit ’n groot verskil in beter veiligheid vir ons gemeenskappe maak.”

Volgens Gonda word daar later vandeesmaand ook ’n kursus in selfverdediging vir vroue aangebied.

 

Soortgelyke plasings