|

Kundiges verduidelik hoe veiligheidsplan vir gemeenskappe moet werk

Die ongekende reeks aanvalle en moorde op plase, hoewes én in stedelike gebiede sedert die begin van die jaar, noodsaak Suid-Afrikaners om toenemend self na hul veiligheidsituasie te kyk.

In die lig hiervan bied AfriForum in samewerking met die Solidariteit Beweging op Saterdag 6 Mei ’n veiligheidsberaad by die Heartfelt Arena in Pretoria aan. Die arena is oorkant die Voortrekkermonument en die verrigtinge begin om 09:00. Die tema van die beraad is: Kom ons maak ons strate veilig!

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, moet gemeenskappe hulself binne die wetlike raamwerk begin beveilig. “Buurt- en plaaswagte is bewese konsepte wat misdaad saam met die polisie en privaat sekuriteit kan hokslaan.”

Die doel van die beraad is om AfriForum se veiligheidstrategie, genaamd Projek Nehemia, bekend te stel wat nasionaal geïmplementeer gaan word.

Volgens genl. Roland de Vries, raadgewer van dié projek, fokus dit spesifiek op die aanslag wat gemeenskappe binne die wetlike raamwerk teen geweldenaars moet voer. “Die strategie is inklusief en het ten doel om alle gemeenskappe met inligtingsbestuur en misdaadvoorkoming deur middel van ’n nasionale netwerk te help.”

Tydens die beraad sal gefokus word op:

>      Die vestiging van ’n nasionale operasionele vermoë binne die wetlike raamwerk.

>      Die vestiging van ’n nasionale veiligheidsstelsel in samewerking met alle rolspelers.

>      Die skep van ’n nasionale bewustheid om gemeenskappe te mobiliseer om saam te werk in die stryd teen misdaad.

>      Die werf van nasionale en internasionale steun.

Die sprekers sluit in: Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Yusuf Abramjee, gemeenskapsaktivis, wat sal praat oor die rol van gemeenskappe in die stryd teen misdaad en Mosiuoa Lekota, leier van Cope, wat sal praat oor sinergie tussen gemeenskappe en die staat.

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekekerheidstudies sal internasionale voorbeelde gee van hoe samelewings teen misdaad kan veg, terwyl Ben Freeth, ’n boer van Zimbabwe sal verduidelik wat Suid-Afrika se voorland is indien niks gedoen word nie.

Om te registreer om die beraad by te woon, gaan na www.veiligheidsberaad.co.za

Soortgelyke plasings