Kriminele polisiebeamptes moet swaarste gestraf word – AfriForum


AfriForum is van mening dat kriminele polisiebeamptes die swaarste gestraf moet word en dat afdanking nie genoeg is nie.
Bheki Cele se bekendmaking gister dat 1 172 lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor die afgelope vyf jaar weens hul betrokkenheid by misdade (wat ernstige misdade insluit) uit die polisiediens ontslaan is, getuig volgens AfriForum van die totale verval van ware reg en geregtigheid in die staatsdiens, want die polisie moet eintlik aan die spits van die gereg staan.

“Polisielede moet die voorbeeld stel en dus moet hulle nóg swaarder gestraf word vir misdade waarby hulle betrokke is,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid. “Voorts het die polisie op 13 Oktober verlede jaar aangekondig dat altesaam 2 270 wapens in die vorige drie jaar deur hulle verloor of by hulle gesteel is. Dit beteken dat misdadigers binne én buite die polisie indirek deur die staat bewapen word.”

Hierdie toedrag van sake spreek boekdele oor die verbrokkeling van die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag, asook die kommerwekkende wyse waarop die SAPD se rekruutkeuring te werk gaan.
Om alles te kroon, blyk dit dat ’n groot aantal ontslane lede nie na behore in ’n strafhof vervolg is om volle verantwoording vir hulle dade te doen nie.

“Die feit dat daar – die aantal ontslane lede ten spyt – nog talle hangende sake teen SAPD-lede is, skets ’n donker prentjie oor hoe korrup en buite beheer die SAPD se strukture is. ’n Land se polisiediens behoort ’n gevoel van veiligheid onder sy burgers te skep. Hierdie soort onthullings lê egter ál meer klem op die feit dat die gemeenskap hulself tot daadwerklike optrede en mobilisering sal moet wend om hul veiligheid te bewerkstellig,” sluit Cameron af.

Soortgelyke plasings