|

Kraal Uitgewers trots op skrywer wat met Jan H. Marais-prys vereer word

Die Jan H. Marais-prys vir uitstekende bydraes tot Afrikaans as wetenskapstaal word vanjaar deur proff. Jaap Steyn van Bloemfontein en Jan van der Watt van Nederland gedeel.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het gesê hulle kry erkenning vir hul lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans.

Steyn, wat as Suid-Afrika se bekendste taalhistorikus bestempel word, is in 1938 in die Vrystaat gebore. Hy het aan Kovsies en ook in Amsterdam studeer. Hy het sy loopbaan as joernalis by die Volksblad begin. Hy was ’n gebore akademikus wat aan die Universiteit van Port Elizabeth, die Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van die Vrystaat gedoseer het.

Honderde publikasies wat wissel van artikels, gedigte, kortverhale tot biografieë het uit sy pen verskyn.

In 2014 het sy boek, Ons gaan ’n taal maak, by Kraal Uitgewers verskyn. Dit was ’n opdragwerk in 2010 van drr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Danie Langer, uitvoerende hoof van die FAK.

Dit handel oor die geskiedenis van Afrikaans sedert die einde van die 19de eeu.

Steyn het vroeër in ’n onderhoud gesê dit was ’n aantreklike aanbod en opdrag. “Die hele geskiedenis van Afrikaans is interessant, maar wat my veral geboei het, was die kritieke tyd na die Anglo-Boereoorlog.

“Die Vrystaters en Transvalers het hul taalregte verloor. Hulle was totaal verarm en die land was verwoes. Hulle het geen politieke of ekonomiese mag gehad nie. Maar die leiers het soos altyd gesorg dat die taal ’n prioriteit bly. Met die leiers word bedoel die boeregeneraals, predikante, onderwysers, joernaliste en ander skrywers wat skole en verenigings gestig het om die taal te bevorder.”

Alana Bailey, uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers, het Steyn gelukgewens met die prys en erkenning wat hom te beurt geval het. “Dit is vir ons ’n baie groot voorreg om Ons gaan ’n taal maak uit te gee.”

Die boek het 624 bladsye en kos R420 en kan bestel word van www.kraaluitgewers.co.za

Steyn deel die prysgeld van R500 000 met Van der Watt wat in 1952 in Germiston gebore is. Hy het sy loopbaan as teologiese akademikus begin aan die Fort Hare-Universiteit in die Oos-Kaap waarna hy by die Universiteit van Pretoria (UP) aangesluit het. In 2009 het hy ’n professoraat in Nuwe Testament aan die Radboud-Universiteit in Nijmegen, Nederland, gekry.

Soos Steyn het hy ook reeds verskeie pryse en toekennings gekry.

Die akademie sal hulle op 30 Mei tydens ’n geselligheid in Stellenbosch vereer.

Soortgelyke plasings