Kraaifontein- en Vredendal-takbestuur woon GOP-werkswinkel by


AfriForum se Kraaifontein- en Vredendal-tak het op 8 April 2019 ’n werkswinkel in Bellville bygewoon wat gehandel het oor dié twee takke se deelname aan die hersieningsproses van hul onderskeie munisipaliteite se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP). Frik Mulder, ’n onafhanklike konsultant en kundige in plaaslikeregeringsake, het die werkswinkel aangebied.
Hierdie werkswinkel was spesifiek gerig op die takbesture se deelname aan die GOP-proses, asook hoe om kommentaar daarop te formuleer en te verfyn. Takbesture gaan op munisipale verordeninge, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP), asook die sonering van verskeie oop gebiede fokus.

“AfriForum bied hierdie soort opleiding aan sodat ons takke aktief by GOP-prosesse en die openbare vergaderings wat deur die onderskeie munisipaliteite gehou word, betrokke kan raak. Dit is belangrik dat ons gemeenskappe seggenskap het oor hoe hulpbronne in ons onderskeie dorpe toegewys word,” sê Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Soortgelyke plasings