Spyskaart +

Kovsies, Afrikaans en die Konstitusionele Hof se politieke onderrok

November 22, 2017 deur Ernst Roets

11 Januarie 2018

Daar is ’n byna goddelike verknogtheid aan die teks van die Grondwet, die opinies van die hoofregter en die uitsprake van die Konstitusionele Hof – ’n verknogtheid wat tot ons eie nadeel lei en wat ons tot inkonsekwentheid noop om aan ons vooropgestelde idee oor die bomenslike status van die Grondwet en die Konstitusionele Hof vergestalting te gee. Wanneer daar uitsprake oor korrupsie gelewer word, jubel ons en verklaar ons graag dat dit die onafhanklikheid van die regbank bevestig. Ons verklaar graag dat die Konstitusionele Hof – en hoofregter Mogoeng in besonder – ’n belangrike “teenwig” teen die regerende elite is wat seker maak dat dinge in toom gehou word.

Wat ons egter versuim om te erken, is dat die Konstitusionele Hof – en die hoofregter in besonder – deel van die regerende elite is en dat die Grondwet telkens deur die Hof vertolk word op ’n wyse wat strook met die regerende elite se sogenaamde progressiewe idees oor die grondwet. (“Linkse idees” is ’n meer gepaste beskrywing, aangesien dit allermins tot progressie lei). As die Konstitusionele Hof deel van die regerende elite is, hoe gebeur dit dan dat sulke sterk uitsprake teen die president gemaak word?

Hierop het prof. Koos Malan reeds die antwoord gegee: In ons beoordeling van die uitsprake van die Konstitusionele Hof moet ons tussen twee tipes sake onderskei. Aan die een kant is daar uitsprake wat met faksiegevegte binne-in die regerende elite verband hou of wat bloot administratief of prosedureel van aard is; aan die ander kant uitsprake wat op ’n daadwerklike vertolking van die substantiewe bepalings van die Grondwet berus. Wanneer die Hof moet beslis oor ’n kwessie wat eintlik maar ’n faksiegeveg binne die regerende elite is, of waarin daar bloot gekyk moet word of die korrekte prosedures gevolg en die tersaaklike wetgewing nagekom is, lewer hulle graag uitsprake waarin die regering aan die bek geruk word – as ’t ware om hulle op koers te hou. Aan die ander kant, wanneer daar oor inhoudelike kwessies beslis moet word wat met diskriminasie, gelykheid, transformasie of ander politieke temas verband hou, dien die Konstitusionele Hof klokslag as ’n instrument om die politieke elite se vertolking van die Grondwet te verskans.

Die probleem wat ek egter wil uitlig, is die verbysterende swak vlak van argumentering wat in sommige uitsprake van die Konstitusionele Hof aangewend word wanneer politieke uitsprake geskryf word.

Die onlangse uitspraak in die saak AfriForum v. University of the Free State oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) is ’n goeie voorbeeld hiervan. In dié saak is daar beslis dat die UV korrek is om Afrikaans as onderrigmedium af te skaf.

Die hoofregter het op grond van sy vertolking van artikel 29(2) van die Grondwet beslis dat dit wel “doenlik” is om Afrikaanse onderrig by die UV voort te sit, maar dat hierdie doenlikheid “onredelik” is, omdat rasseverhoudinge as gevolg daarvan “vergiftig” word. As Afrikaanse studente in hul eie taal studeer, is dit ’n voortsetting van “wit oorheersing” en as Afrikaanse studente aanhou om in Afrikaans te studeer, sal dit die verwesenliking van oudpresident Nelson Mandela se “ergste nagmerries” wees.

Nou goed – asof daardie stelling nie erg genoeg is om jou wenkbroue te lig nie, word ’n reeks algemeen erkende drogargumente in die uitspraak gemaak voordat hierdie gevolgtrekking gemaak word.

Met die lees van die uitspraak het ek op ’n stadium begin om ’n kollys op my rekenaar by te hou van al die drogargumente wat deur die hoofregter gemaak word ter stawing van sy gevolgtrekking dat Afrikaanse onderrig by die UV basies afgeskaf moet word. Teen die tyd dat ek deur die uitspraak gewerk het, het ek twee en ’n halwe bladsye vol punte getik!

Sonder om elke punt in detail te behandel, lig ek enkeles uit om die punt te illustreer:

  1. Benadering tot die hofsaak

Die eerste kwessie is die polities geïnspireerde wyse waarop die ganse hofsaak benader word. In paragraaf 1 tot 20 word gevleuelde woorde oor die boosheid van apartheid gebesig, asook oor die verband tussen Afrikaans en onderdrukking, die UV se uitfasering van Afrikaans as deel van ’n “grondwetlik geïnspireerde transformasionele agenda”, die feit dat ons almal “skaamteloos Suid-Afrikaans” moet wees en dat meertaligheid tot rasseskeiding lei. Ná 20 paragrawe word daar in paragraaf 21 twee sinne aan AfriForum en Solidariteit se argument gewy, waarin daar slegs gesê word dat die applikante nie gelukkig is nie en dat baie wit en swart Afrikaanse studente in Afrikaans wil studeer. As die uitspraak ’n aanduiding van die hoofregter se toegepaste redenering is, beteken dit dat die hoofregter hom bloot in die verbygaan aan die argumente gesteur het wat deur AfriForum aangevoer is.

In die saak word daar swaar op die uitspraak in die destydse Ermelo-saak gesteun as stawing van die beslissing dat Afrikaans afgeskaf moet word. Daar is egter ’n wesenlike verskil tussen die Ermelo- en die UV-saak. Die Ermelo-saak het oor die verandering van ’n skool se taalbeleid van enkelmedium na parallelmedium gehandel. Die argumente wat aangevoer is om Hoërskool Ermelo meertalig te maak, word deur die hoofregter aangehaal ter stawing daarvan dat die UV uitsluitlik Engels moet wees.

In die minderheidsuitspraak wys regter Froneman egter uit dat daar nie in die stukke voor die hof aangevoer is dat alle, die meeste of ’n wesenlike komponent van die Afrikaanse studentegemeenskap hulself aan rassistiese gedrag skuldig maak nie. Tog is dit die indruk indien ’n mens die hoofregter se uitspraak lees, wat ’n groot aandeel in sy motivering het oor waarom Afrikaans afgeskaf moet word. As dit wel gebeur, wil Froneman weet, waarom is die oplossing nie bloot om die rassiste te dissiplineer nie? Waarom moet ’n taal as onderrigmedium afgeskaf word om beweerde rassisme te stop? So asof die hoofregter se beweerde rassiste skielik hul houding gaan verander indien hulle geforseer sou word om in ’n ander taal te studeer. Daar word ook geen poging deur die hoofregter aangewend om ’n verband tussen Afrikaans as onderrigmedium en hierdie beweerde rassisme te bewys nie.

  1. Politieke onderrok

Die hoofregter maak dit duidelik in sy uitspraak dat hy sterk politieke opinies oor hierdie kwessie het en dat sy politieke opinies hom as ’t ware lei in watter rigting die Grondwet vertolk moet word.

Die hoofregter voer aan dat Afrikaans uitgefaseer word weens die uitvoering van ’n grondwetlik geïnspireerde transformasie-agenda en dat die onderliggende waardes van die Grondwet dit noodsaak dat Afrikaanse studente by die UV nie meer in Afrikaans mag studeer nie. Wanneer die grondwet bepaal dat moedertaalonderrig redelikerwys doenlik moet wees, erken die hoofregter dat dit doenlik is om Afrikaanse onderrig by die UV voort te sit, maar verklaar hy dat “aanneemlikheid tot gelykheid moet uitbrei, asook na ’n behoefte om die siektes van ons skandelike apartheidsverlede te genees … En dit is slegs haalbaar as die uitoefen van die reg om in ’n taal van eie keuse onderrig te word nie ’n gevaar vir rasseharmonie is of onbedoeld tot rasse-oorheersing lei nie.” Hy versuim egter om rasseharmonie en rasse-oorheersing te definieer, of om aan te voer dat dit inderdaad die geval by die UV is, of – belangriker nog – wie se siening van rasseharmonie en rasse-oorheersing aanvaar moet word. As daar nie aan ekstremistiese anti-wit rassiste se eise voldoen word nie, is dit baie maklik vir diesulkes om op opportunistiese wyse op die afskaffing van Afrikaans aan te dring deur te beweer dat dit rasseharmonie benadeel. Dit blyk dat die hoofregter in hierdie strik getrap het. Dit is duidelik in die uitspraak dat “wit Afrikaner”-studente met agterdog bejeën word wanneer hulle vra om in hul eie taal te studeer, terwyl die sentiment van ekstremistiese anti-wit rassiste sonder vraagteken onderskryf word wanneer daar geëis word dat Afrikaans afgeskaf word.

Daar is ook ’n probleem met die politieke retoriek wat in die uitspraak gebruik word. Terme soos “ons mense” om na swart mense te verwys en die herhaalde verwysing na “wit oorheersing” is maar enkele voorbeelde hiervan.

  1. Anti-Afrikaner inslag

Die hoofregter maak in die uitspraak geen geheim daarvan dat hy ’n bepaalde irritasie met “wit Afrikaners” het nie. Ten spyte van die feit dat die uitspraak nie oor Afrikaners gaan nie, maar oor Afrikaans, word herhaaldelik na Afrikaners in die uitspraak verwys.

Hy sê byvoorbeed: “Of wit Afrikanerstudente ’n respek vir die waardigheid van mede- swart studente in hul daaglikse interaksie oor die jare heen toon en of ’n geloofwaardige of noodsaaklike verband gemaak is tussen rassegesegregeerde klasse en die rassespanning waarna verwys word, sal die universiteitsgemeenskap beter weet.” Dié opmerking is uiters onvanpas. Nie net is dit irrelevant tot die saak nie, dit is ook ’n geykte debatstaktiek wat aangewend word om agterdog oor jou opponent te skep sonder om enige bewyse daarvoor te lewer. Die stelling dra nie tot die uitspraak by nie en die enigste doel wat hiermee bereik word, is om ’n hou teen Afrikaners by die uitspraak in te werk.

Daar word by meer as een geleentheid in die uitspraak na die rassisme van “wit Afrikaners” verwys. Geen sweempie is sigbaar oor die rassisme wat by die UV teen wit mense gepleeg word nie. Geen uitlating word gemaak oor wit studente wat aangerand of met die dood gedreig word bloot op grond van hul wit velle nie. Die uitspraak skep die indruk dat “wit Afrikaners” die enigste mense is wat hulle aan rassisme skuldig maak en dat hulle op een of ander manier gestraf moet word hiervoor. Die oplossing is dan om Afrikaans af te skaf. Asof dit die probleem wat die hoofregter skets sal oplos.

Dan gaan die hoofregter verder deur nie bloot uitspraak te lewer oor hoe die reg vertolk moet word nie, maar deur ’n aanslag te doen op dié wat hy op grond van sy selektiewe waarneming as rassiste beskou. Hy sê: “Dit sal onredelik wees om slaafs aan ’n taalbeleid vas te klou wat bewys is om die praktiese antitese te wees van regverdigheid, haalbaarheid, inklusiwiteit en die remediërende aksies wat nodig is om rassisme en sy neigings uit hul gemaksone te ruk.” Uit die uitspraak is dit duidelik dat hy slegs met wit rassisme bemoei is.

  1. Inkonsekwentheid

In die redenering wat die hoofregter tot die gevolgtrekking lei dat Afrikaans afgeskaf moet word, is hy in ten minste vier opsigte grof inkonsekwent.

In die eerste plek (soos reeds uitgewys) word die probleem van wit rassisme opgeblaas, terwyl die probleem van swart rassisme botweg geïgnoreer word. Die oplossing vir wit rassisme is dat Afrikaans afgeskaf moet word (dit is ten minste deel van sy argument). Indien dit wel so is, kan daar netsowel aangevoer word dat die oplossing vir swart rassisme sou wees om Engels af te skaf.

Die tweede punt berus op my eie bespiegeling oor wat die hoofregter in ander omstandighede sou beslis. Daar word aangevoer dat Afrikaanse klasse rasseskeiding tot gevolg het. Rasseskeiding is só sleg dat dit beter is om vir die Afrikaanse minderheidsgemeenskap te sê dat hulle nie meer in hul eie taal mag studeer nie (natuurlik in stryd met byna alle VN-voorskrifte oor moedertaalonderrig). Ek is egter bitter nuuskierig wat die hoofregter se standpunt sou wees as Afrikaans die meerderheidstaal en Engels of selfs Tswana of Sotho die minderheidstaal was. Sou die hoofregter dan gesê het dat hierdie swart studente in die belang van rasseharmonie eerder in Afrikaans moet studeer? Ek twyfel! Dit is niks minder as dubbele standaarde ten koste van Afrikaans nie.

Die derde punt hou met die tweede verband. Die hoofregter maak herhaaldelik twee kernargumente om sy uitspraak vir die afskaffing van Afrikaans te regverdig, wat loodreg in botsing met mekaar is. Aan die een kant voer hy aan dat Afrikaans tot rassesegregasie lei en dat dit afgeskaf moet word om te verhoed dat dit wit studente in die een klas sit en swart studente in die ander klas (wit Engelse studente blyk irrelevant te wees in hierdie argument). Aan die ander kant voer hy aan dat Afrikaans afgeskaf behoort te word omdat die meerderheid van die wit Afrikaanse studente in elk geval in Engels studeer. Volgens sy eie vertolking van die situasie is daar dus nie rassesegregasie nie, maar moet Afrikaans afgeskaf word om rassesegregasie stop te sit.

Die vierde punt is die ou ironie van die “English only”-beleid in die naam van dekolonisering. Daar word in die uitspraak aangevoer dat Afrikaans histories bevoordeel is en as gevolg daarvan tot ongelykheid lei. Gevolglik moet onderrig uitsluitlik in Engels plaasvind (met die uitsondering van Teologie, Onderwys en tutorklasse). Engels is egter die een taal wat selfs nog meer as Afrikaans “bevoordeel” is. As die probleem werklik is dat sekere tale bevoordeel is, is die oplossing om ander tale op te hef en nie om die status van die bevoordeelde tale af te breek nie.

Die punt is gemaak dat die uitspraak op ’n bepaalde vertolking van die Grondwet berus. My argument is dus nie noodwendig dat die uitspraak van die Konstitusionele Hof ongrondwetlik is nie. Die punt is gemaak dat die Grondwet uiteenlopend vertolk kan word en dat die vertolking daarvan deur die Konstitusionele Hof om die agenda van die regerende elite te verskans aan die orde van die dag is. Dit is egter ’n ander saak, wat met die nodige erns besef moet word. Die probleem hier is dat die Konstitusionele Hof, in sy poging om aan die agenda van die regerende elite gehoor te gee, homself aan roomskeppery, ad hominem’s, non sequitur’s, inkonsekwente redenering en verskeie ander drogargumente skuldig maak.

Ernst Roets

Ernst is adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum

Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets