|

Kovsie-regspan voer geweld en segregasie aan as redes om Afrikaans af te skaf

In die regsaak tussen AfriForum, AfriForum Jeug, Solidariteit en die Universiteit van die Vrystaat (UV) het die UV se regspan vanoggend erken dat geweld die Grondwet troef.

In die saak wat in die Bloemfonteinse hooggeregshof aangehoor word, het adv. Jeremy Gauntlett, namens die UV, erken dat die instelling se besluit om ’n nuwe taalbeleid in werking te stel wat Afrikaans uitrangeer, nie op finansiële gronde geneem is nie, maar omdat Afrikaans volgens hulle tot segregasie lei.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, wat die saak bywoon, het gesê geen reg kan bevorder word deur ’n ander reg weg te neem nie. Die Grondwet maak voorsiening vir moedertaalonderrig waar prakties moontlik en doenlik.

“Die UV bied parallelmedium-onderrig aan en geen student word van ’n studiegeleentheid ontneem omdat ’n ander student se reg tot Afrikaanse moedertaalonderrig gerespekteer word nie. As besluite in die land deur geweldsdreigemente gedryf word, kan ons nie langer voorgee dat ons ’n demokrasie is nie.”

Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, meen die UV-bestuur gee in wese toe dat geweld die Grondwet troef. “Die feit dat Afrikaans hier prakties aangebied word, soos in die Grondwet bedoel, moet buig voor anargie. Dis ’n politieke spel vermom as ’n taalkwessie.”

Adv. Johan du Toit, namens AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit, het in sy betoog die grondwetlike reg volgens art 29 (2) beklemtoon om aan te hou om onderrig te kry in ’n taal wat reeds aangebied word. Hy het ook op prosedurele afwykings gewys toe die UV die nuwe beleid aanvaar het. Die nuwe beleid behels dat onderrig vanaf 2017 net in Engels aangebied word.

Du Toit het verwys na vyftien geleenthede voor 4 Desember 2015 se raadsvergadering oor die taalbeleid waar verskeie kundiges soos dosente, senaatslede en raadslede die UV-bestuur gewaarsku het dat ’n eentalig Engelse beleid risiko’s skep. Dit is onder meer ongrondwetlik, dit kom neer op taalregteskending en dit het implikasies vir koste vir die universiteit en ’n verlies aan steun. Al die waarskuwings is deurgaans geïgnoreer.

Du Toit het ook aangevoer dat die nuwe taalbeleid nie net op diskriminasie teen huidige studente neerkom nie, maar ook op toekomstige studente. Hy het voorts gesê skoliere wat in hul moedertaal leer, het ook die reg om te weet hul taalregte is veilig.

Adv. Jan Heunis, namens vriende van die hof wat Fedsas, die SAOU en die Afrikaanse Taalraad (ATR) insluit, het aangevoer dat die grondwet ingevolge art 29 (2) nie kwalifiseer dat ’n taal soos Engels meer reg het weens “internasionaliteit” of toegang wat dit tot loopbaangeleenthede gee nie. Dis nie ter sake wanneer dit by grondwetlike regte kom nie.  Waaroor dit gaan, is die belang van moedertaalonderrig.

Heunis het gesê dit is tragies dat die ander nege amptelike tale twee dekades nagelaat is en dat die moedertaalsprekers daarvan nou gedwing is om in Afrikaans of Engels te studeer. Sou almal egter kies om in Engels te studeer, verminder dit egter nie die reg van Afrikaanssprekendes om in Afrikaans te studeer nie.

Heunis het voorts gesê die UV het getransformeer en is nie meer eksklusief Afrikaans nie. Die instelling het aan die uitdagings van die dag gehoor gegee. “Ons vra nie vir die herinstelling van die verlede nie, maar vir Afrikaanse studente se reg om in Afrikaans te studeer.”

Gauntlett het voorts gesê die UV se nuwe taalbeleid is nie die gevolg van geweldsdreigemente nie. Dit is ’n oorvereenvoudiging van die saak.

Volgens hom gaan dit oor segregasie. Klasse is geskei op grond van wit en swart en dit dra volgens die UV by tot polarisasie en geweld.

Hy het gesê die UV se besluit is nie deur finansiële gronde gedryf om geld te spaar nie. Dit was nooit eens die oorweging nie. Dit het egter onhoudbaar geword om met parallelmedium-onderrig voort te gaan.
Gauntlett se argument was ook dat iets soos taal nie beskerm kan word omdat dit mooi en histories en kosbaar is nie. “Jongmense verlang die taal wat die meeste moontlikhede bied soos byvoorbeeld toegang tot werk. En dit is Engels. Studente kan steeds hul moedertaal tuis praat en dit koester,” het hy gesê.

Uitspraak is voorbehou.

 

Soortgelyke plasings