|

Koshuisinwoner van Kovsies vergelyk dade van wit mense met dié van die duiwel

’n Student van die Villa Bravado-koshuis by die Universiteit van die Vrystaat (UV) het onlangs rassistiese en uitlokkende opmerkings teenoor wit mense op sy koshuisgang se WhatsApp-groep gemaak.

“Daar was nooit enige tyd in die geskiedenis waar die swart mens die wit mens se land of vasteland binnegeval het om mense dood te maak, vroue te verkrag, hul waardevolle geskenk (grond) te neem wat deur God gegee is nie, of die natuurlike hulpbronne van wit mense gebruik en oorgedra het nie. En selfs ’n stelsel geskep het om hul mag en voorreg te handhaaf! Is die bogenoemde dade nie dié van die duiwel nie?” lui die boodskap wat die student op 28 Maart 2017 op die WhatsApp-groep geplaas het.

Marike van As, AfriForum Jeug se Kovsies-koördineerder, sê dat dit nie die eerste keer is wat klagtes oor rassistiese uitlatings of optrede teenoor wit mense op die UV-kampus geopper is nie.

Sy meen hoewel verskeie soortgelyke sake voorheen onder die aandag van mnr. W.P. Wahl, assistentdirekteur van koshuislewe, gebring is, versuim hy om op te tree en het studente gevolglik vertroue in die klagtestrukture verloor.

“’n Koshuis is veronderstel om ’n veilige hawe te wees waar studente kan leer, leef en aan ’n gesonde studentelewe deelneem sonder om met politiek en rassisme gekonfronteer te word. Daarom eis AfriForum Jeug dat die student onmiddellik uit die koshuis geskors en tugstappe teen hom geneem moet word.”

Van As sê voorts dat die betrokke student voorheen by betogings by die universiteit betrokke was en al voor ’n dissiplinêre komitee verskyn het.

Luidens mediaberigte het ʼn woordvoerder van die UV gesê dat die kampus se eenheid vir studentedissipline en bemiddeling reeds besig is om die saak te ondersoek. Die woordvoerder meen dit is vir die UV belangrik om vinnig en regverdig op die klagtes van studente te reageer.

Volgens Van As het AfriForum nog nie terugvoer van die eenheid vir studentedissipline en bemiddeling oor dié saak ontvang nie.

Soortgelyke plasings