--> -->
Spyskaart +

Korrupsie gaan nie die verkiesingsuitslag swaai nie

April 11, 2019 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Daar is min euwels so groot en ernstig in hedendaagse Suid-Afrika soos korrupsie. Die onreëlmatige misbruik van staatshulpbronne is besig om dienslewering lam te lê, die verkeerde mense te verryk en die armes (en die land in geheel) te benadeel. Dit laat op die koop toe sakevertroue daal en skrik beleggers af.

Die onregmatige toeken van tenders, blote omkopery van amptenare en die gebruik van staatsgeld vir private of sektariese belang het endemiese afmetings aangeneem. R.W. Johnson skryf onlangs op PoliticsWeb hoe menige staatsamptenaar en ANC-partylid vir hulself suksesvolle sakeloopbane geskep het deur staatsbesteding na hul besighede te kanaliseer.

“All attempts to prevent such practices have failed and, indeed, they are endemic,” weeklaag hy. “The point is, of course, that as public servants they are mere employees, supplicants for patronage, while if they can build business careers they can become self-employed – with an independent relationship to the forces of production. This would – such is the dream – turn them into patrons themselves, instead of just clients.”

Vandag het “staatskaping” die groot skeldwoord geword en dit word allerweë as uitruilbare konsep vir korrupsie – of as plaasvervangende term daarvoor – gebruik. So eenvoudig is dit egter nie. Korrupsie is veel groter en erger as net sogenaamde staatskaping waarby die Guptas en Jacob Zuma betrokke was. Dit handel oor die ANC en hul trawante se langdurige houvas op instellings op alle vlakke van die staat. Korrupsie, voortspruitend uit maar nie tot staatskaping beperk nie, gaan derhalwe nie net oor berugte skobbejakke wat tydelik in posisies van mag is nie. Dit strek vanaf ministers tot by premiers en laevlak- munisipale amptenare, en het lank voor die Zuma-tydperk bestaan.

Daar is nou al sedert pres. Cyril Ramaphosa se bewindsoorname aan die begin van 2018 skynbare pogings aangewend om veral hoëvlakkorrupsie en -staatskaping te begin uitroei. Die Zondo-kommissie van ondersoek oor staatskaping is een so ’n prominente voorbeeld. Daar is ook ’n wyd aanvaarde (maar misplaaste en naïewe) aanname dat Ramaphosa skoon is en nou gaan “huis skoonmaak” omdat hy een van die matige en korrupsievrye persone in die ANC en regering is.

Die DA se verkiesingstrategie (tewens, hul algehele strategie) handel grootliks daaroor om ANC-korrupsie uit te wys en Ramaphosa daaraan te probeer koppel. Daar is niks daarmee fout nie en dit moet gedoen word. Die probleem daarmee is egter dat die meeste daarvan algemene kennis is omdat die media klaar daaroor berig het. Korrupsie het so endemies en algemeen geraak dat die onthulling daarvan nie meer werklike skokwaarde inhou nie. City Press en die Sunday Times se voorblaaie is pal vol van korrupsieskandale.

Die ander probleem is dat die ANC, veral gedurende die Zuma-jare, die vlak van korrupsie só verhoog het dat “mindere” korrupsie as ’t ware genormaliseer is. Vir die DA om dus Ramaphosa te probeer “uitvang” oor die omstrede maatskappy Bosasa se R2 miljoen-skenking aan sy seun se maatskappy gaan geensins die ANC se verkiesingstrein laat ontspoor nie.    

Ramaphosa is al vir lank ’n hooggeplaaste in die ANC en hy was vir jare Zuma se adjunkpresident. Sy beloftes oor die uitroei van korrupsie is oneerlik en daar is geen bewyse dat dit daadwerklik gedoen word nie. Sy kosmetiese veranderinge aan personeel by sekere instellings is meer daarop gerig om die opskrifte te verander as om historiese of huidige sondaars vas te vat.

Die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh se nuwe boek oor die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, getiteld Gangster State – Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture het ook so pas die lig gesien. Dit is vol opsienbarende besonderhede en is noukeurig nagevors. Magashule en ander wou blykbaar geen kommentaar op Myburgh se bewerings lewer nie, maar ’n hofaansoek het onlangs gedreig toe die boeke by winkels afgelaai is.

Die publikasie van die boek kom op ’n interessante, dog nie verrassende, tydstip – net voor ’n verkiesing. Ek hoop egter nie dat Myburgh en ander hoopvolles gedink het dat dié boek, of enige ander onthullings, nou skielik die uitslag van die verkiesing gaan swaai nie. Want dit gaan nie.

Magashule se sondes behoort vir niemand ’n verrassing te wees nie. Dit is oorbekend. Maar in plaas daarvan dat die ANC en groot dele van die publiek hom verooordeel, het die ANC vir Myburgh geroskam en sy boek as ’n sameswering veroordeel. ’n Politieke ontleder het in reaksie op die boek gesê Magashule is ’n “anomalie” – ’n afwyking op die reël – wat Ramaphosa se stryd teen korrupsie betref. Dis nie waar nie: Magashule is ’n simptoom van die wese van die ANC en geen uitsondering nie. Ramaphosa se stryd teen korrupsie is (ten minste sover) uitsluitlik retories en dit laat geldige vrae ontstaan of daar werklik enige “stryd” plaasvind. Hy het vele korruptes in sy kabinet en die ANC se verkiesingslys is ook deurspek met hulle.     

Al die vorige korrupsieonthullings het luidens die peilings ook nie veel gedoen om stempatrone te verander nie – ten spyte van middelklas se woede oor korrupsie. Die ANC gaan iewers tussen 54% en 60% van die steun in die komende verkiesing inoes. Die ewe korrupte EFF mag dalk selfs groei vanaf hul 2014- en 2016-steunvlakke beleef.

Kiesers in Suid-Afrika stem helaas nie noodwendig vir ’n skoon regering en indiwidue nie, maar op grond van identiteit en belange. Weens Suid-Afrika se groot armoede en hoë werkloosheid betaal die oorgrootte meerderheid van die bevolking nie veel belasting nie, of selfs niks. Hulle sal nooit Myburgh se boek lees of enige ander berigte oor korrupsie sien nie. Hulle stem ANC oor kwessies soos toelaes en ander staatshulp, en nie oor korrupsie nie. Daarom is daar geen aansporing om die magshebbers vir die wanaanwending van ander mense se geld aanspreeklik te hou nie.

Die werklike voorbladnuus sal geskep word wanneer mense, veral magtiges, aan die pen begin ry. Die uitdaging is dat die staat en party (lees: die ANC) so ineengevleg geraak het dat die staat nie teen die party en sy amptenary (of ander magtiges) wíl optree nie. ’n Mens sien dit byvoorbeeld in die optrede en uitsprake van die Menseregtekommissie (MRK) en die Openbare Beskermer (OB). Die howe gee nog goeie uitsprake en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) doen sporadies goeie werk, maar hulle is steeds uiters lugtig om teen mense in magsposisies op te tree.

Die lokus van verantwoordbaarheid het dus grootliks na die media en die burgerlike samelewing verskuif. Dit is waar AfriForum en veral sy privaatvervolgingseenheid van allergrootste belang is. Deur mense in magsposisies privaat te vervolg, word ’n vermoë gevestig om hooggeplaastes aanspreeklik te hou en word daar terselfdertyd druk op die NVG geplaas om hul werk te doen.

Dit is deel van die langtermynpad wat gestap moet word om korrupsie teen te werk. Om ons hoop op ander uitkomste in verkiesings – veral die 2019-een – te plaas om korrrupsie te beveg, is helaas nie realisties nie.