|

Koop ’n StopHonger-energiestafie en voed ’n kind

 

Daar is tans meer as 8 000 kleuters wat danksy Solidariteit Helpende Hand se verskeie voedingsprojekte elke dag ’n gesonde bord kos kry.

Dit is net soveel kinders as ’n volgepakte gehoor by ’n musiekvertoning in die Time Square Arena in Pretoria.

Die behoefte word egter elke dag groter en die organisasie het al aansoeke gekry om nagenoeg 12 000 kinders daagliks te voed.

Uit vrees dat hul Kosblikkie-projek nie volhoubaar sou wees om genoeg fondse vir die groeiende nood in te samel nie, het Helpende Hand besluit om die kommersiële mark te betree met ’n produk van hoë gehalte. Só is die StopHonger-energiestafie gebore.

Dié gesonde energiestafie is nie net die perfekte peuselhappie vir kinders se kosblikke nie, maar die aankoop van net een stafie help om een honger kind te voed.

“Daar is tans honderde kleuters regoor Suid-Afrika wat hartseer en honger bed toe gaan. Ons wil nie hê kinders moet bedel vir kos nie en ons wil nie bakhand staan om vir hulle kos te gee nie. Helpende Hand wil graag aanhou voorsien waar nodig en ons wou dit doen deur selfonderhoudend te word. Deur die bemarking van hierdie produk wil ons die hongersnood onder kinders volhoubaar aanpak en terselfdertyd werkskepping aanwakker,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Die stafie is tydens Afrikaans is Groot in November 2019 bekendgestel en geniet die ondersteuning van bekendes soos die akteur Armand Aucamp en die sangers Steve Hofmeyr en Jay. “Om honger kinders te help voed, is ’n prioriteit. Gaan koop gerus van dié stafies. Dit is heerlik én jy help ’n kind in nood,” sê Aucamp.

“Ek dink hierdie is ’n fantastiese inisiatief. Hierdie is ’n seer land, ’n honger land, ’n dors land. Elke bietjie help en hierdie gaan verseker help om ’n hele paar honger magies vol te maak,” sê Hofmeyr oor die stafies.

Die stafies is tans in drie geure beskikbaar – piesang-en-karamel; sonneblom- en pampoensaad; en veselperske, pynappel en klapper.

Die stafies kos R20 elk en is aanlyn beskikbaar by:  www.stophonger.co.za

Agente word egter benodig om saam te werk en met die verkope te help. Om ’n agent te word en die stafies in jou gemeenskap te verkoop, stuur ’n e-pos aan arabelladistributors@gmail.com

’n Agent kan ’n inkomste van tot 40% uit ’n aanvanklike belegging verdien.

 

Soortgelyke plasings