|

Konstitusionele Hof moet ingryp by staatskaping

Die burgerregtewaghond AfriForum, die Quaker Peace Centre, ’n nieregeringsorganisasie wat hom vir ’n veilige samelewing beywer, en die FW de Klerk-stigting het vandag ’n aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien om adj.pres. Cyril Ramaphosa te beveel om ’n kommissie van ondersoek saam te stel om die beweringe van staatskaping te ondersoek.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, het gesê dit is dringend noodsaaklik dat staatskaping omvattend ondersoek word om die land se naam te herstel, om korrupsie uit te roei en om diegene wat by staatskaping betrokke is aan die pen te laat ry.

Die organisasies vra in hul aansoek dat die hof pres. Jacob Zuma onbevoeg moet verklaar om self ’n kommissie van ondersoek aan te stel weens ’n konflik van belange soos vervat in artikel 96(2)(b) van die Grondwet.

Volgens Taute het Zuma ná die bekendmaking van adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, se verslag oor staatskaping versuim om ’n kommissie aan te stel omdat die risiko te groot was dat hy homself en ander medepligtiges sou blootstel en impliseer.

Sy meen voorts dit is duidelik dat Zuma se persoonlike belange nie met sy amptelike verantwoordelikhede teenoor die land belyn is nie. Om dié rede is dit belangrik om in ag te neem dat artikel 90(1) van die Grondwet bepaal dat die adjunkpresident onder dié omstandighede die uitsluitlike mag het om ’n kommissie van ondersoek aan te stel.

Ramaphosa het in die media reeds aangedui dat hy ten gunste van die aanstelling van ’n kommissie is om staatskaping te ondersoek. Maar so ook is Zuma en die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC en Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering.

Politieke ontleders is egter eens dat dié optrede en bereidwilligheid van Zuma en die ANC om ’n kommissie aan te stel, bloot ’n rookskerm is om die aandag af te lei van die korrupsie waarby die president en sy meelopers betrokke is. Die vrees bestaan ook dat die kommissie nie onafhanklik sal wees nie, maar die president en ander skuldiges eerder sal beskerm.

Die De Klerk-stigting het in ’n verklaring gesê die stigting is daartoe verbind om toe te sien dat die Grondwet en die oppergesag van die reg eerbiedig moet word. Die stigting is van mening dat die uitvoerende gesag en die Nasionale Vergadering misluk het om ’n oorsigrol te vervul en dat dit daarom nodig geword het om die howe te nader om groeiende regeringsverval te keer.

Carol Bower, voorsitter van die Quaker Peace Centre, het gesê die partye se interpretasie is dat Zuma nie bevoeg is om ’n kommissie aan te stel nie en dat dié verantwoordelikheid na die adjunkpresident oorgedra moet word. “Ons verwag van die hof om aan te dui of ons interpretasie korrek is.”

Bower het voorts gesê Suid-Afrika is in ’n krisis. “Terwyl daar nie duidelike bewyse is oor presies wat aan die gang is nie, moet ’n kommissie van ondersoek ingestel word. Burgerlike organisasies soos ons het ’n morele plig om alles in ons vermoë te doen om uit te vind wat aangaan en om ’n einde aan staatskaping te bring as dit aan die orde van die dag is. Die land is deurspek met korrupsie en weens die chaos en wanorde in regeringsdepartemente en staatsinstellings is die demokrasie in gevaar.”

Die DA wil hê ’n parlementêre ad hoc-komitee moet die bewerings van staatskaping ondersoek en die mag hê om Zuma en die Guptas te dagvaar.

Taute het gesê AfriForum sal aangaan om korrupsie te beveg en gelykheid voor die reg te bevorder.

In die aansoek vra die applikante ook dat die regering beveel word om die nodige logistieke ondersteuning en hulpbronne aan die kommissie beskikbaar te stel ten einde ’n behoorlike ondersoek te kan doen.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen die aansoek is gebring omdat die organisasies glo dat dit suksesvol kan wees.

Intussen het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, met ’n onafhanklike ondersoek begin na e-pos-boodskappe wat die omstrede Gupta-familie by grootskaalse staatskaping betrek. Dié eenheid sal besluit om privaat te vervolg indien daar bewyse van staatskaping is en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit om nie daarop te reageer nie.

’n Groep akademici verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand het ook onlangs ’n verdoemende verslag oor staatskaping vrygestel getiteld: Betrayal of the Promise: How South Africa is being stolen. Hierin word uiteengesit hoe die Gupta-familie regeringsinstellings en staatsinstellings as’t ware gekaap het.

Daarna het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) ook bevindinge van ’n eie ondersoek na staatskaping bekend gemaak. Dit het gekom na klagtes deur ANC-politici en senior staatsamptenare wat gekla het dat hulle gedwing is om sakegunste vir Zuma en die Guptas te doen.

Soortgelyke plasings