Konstitusionele Hof hoor vandag Zim-boere se aansoek


Die Konstitusionele Hof hoor vandag die aansoek van ’n groep Zimbabwiese boere wat met die bystand van AfriForum die afskaffing van die SAOG-tribunaal deur oudpresident Jacob Zuma en ander SAOG leiers betwis.
Die Hooggeregshof in Pretoria het reeds vroeër vanjaar bevind dat Zuma onregmatig en onkonstitusioneel opgetree het toe hy en ander staatshoofde van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap vroeër die verrigtinge van die SAOG-tribunaal opgeskort en later die tribunaal heeltemal ontbind het.
Aangesien die Hooggeregshof se bevinding ’n presidensiële handeling raak, moet dit deur die Konstitusionele Hof bekragtig word. Die presidensie het ook besluit om teen een aspek van die Hooggeregshofbevel te appelleer.
Die hofaansoek is aanvanklik deur die Vereniging van Prokureursordes van Suid-Afrika geloods en verskeie Zimbabwiese boere wat deur die grondgrypproses in Zimbabwe benadeel is, waaronder Ben Freeth en Luke Tembani, het hulle later by die hofaansoek aangesluit.
Ben Freeth is die skoonseun van Mike Campbell wat in 2008 geskiedenis gemaak het deur ʼn suksesvolle aansoek na die SAOG-tribunaal wat destyds in Windhoek, Namibië gesetel was teen Robert Mugabe se Zimbabwiese regering. Die tribunaal het destyds beslis dat die Zimbabwiese grondhervormingsproses onwettig en rassisties was en gelas dat Mugabe dit staak.
In reaksie het Mugabe egter die interdik van die tribunaal geïgnoreer en eerder die res van die SAOG-leiers oortuig om die tribunaal te ontbind. Sodoende het die bevordering van menseregte en die oppergesag van die reg ’n geweldige terugslag gekry.

Soortgelyke plasings