Konstitusionele Hof gooi appèlsaak oor vlagtwiet teen Ernst Roets uit

AfriForum verwelkom die Konstitusionele Hof se besluit om die Nelson Mandela-stigting (NMS) se aansoek om appèl oor die vlagtwietsaak uit te gooi. Die hof het AfriForum en die NMS vandag in kennis gestel dat dit nie in belang van geregtigheid is dat die appèlsaak  aangehoor word nie.

Dít volg nadat die NMS by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen het dat die klag van beweerde minagting van die hof deur Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, op appèl geneem moet word. Die Suid-Gautengse hooggeregshof het die stigting se saak teen Roets vroeër vanjaar uitgegooi.

Die NMS beweer dat Roets minagting van die hof gepleeg het toe hy ’n prentjie van die 1928-vlag (ou Suid-Afrikaanse vlag) getwiet het en gevra het of dit haatspraak is. Die NMS beweer ook dat Roets die hof geminag het deur te sê dat regters mense is en dat mense foute kan maak.

“Hierdie is ’n bevestiging dat die NMS besig is met sy eie politieke agenda wat op niks meer as ’n heksejag neerkom nie – ’n heksejag wat nie aan die hand van die reg geregverdig kan word nie,” sê Roets.

Soortgelyke plasings