|

Konsentrasie is ’n plan wat werk

Onlangse navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) dui daarop dat daar teen 2031 ongeveer 2,7 miljoen Afrikaners binne die grense van Suid-Afrika, soos wat ons dit nou ken, gaan wees.

Dié projeksies wys ook dat die meeste Afrikaners in ongeveer 30 dorpe regoor Suid-Afrika gekonsentreer sal wees.

Volgens Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum, maak dié syfer dit vir Afrikaners die moeite werd om vir die toekoms te beplan, want daar is mense vir die toekoms.

Hy het by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad oor die beweging se konsentrasieplan vir 2030 gepraat en uitgewys dat om vir die toekoms te beplan, daar bepaal moet word hoeveel Afrikaners daar gaan wees, waar hulle gaan wees en wat hulle gaan doen.

Uys verduidelik dat daar reeds ’n natuurlike konsentrasieproses is waarvolgens mense van klein dorpe na streekdorpe of groot stede trek en hoewel dié proses meer hulpbronne en ekonomiese groei beteken, sal dit volgens Uys sonder die nodige beplanning en bestuur tot die ineenstorting van die dorp kan lei.

Luidens SNI se navorsing gaan daar drie groter konsentrasiegebiede (wat die Solidariteit Beweging kantons noem) gevestig moet word en hierdie kantons gaan waarskynlik in Pretoria, in die Wes- of Suid-Kaap en in die weste van die land met Orania as groeipunt wees.

Uys het ook gepraat oor die noodsaaklike dienste wat in ankerdorpe tot stand gebring moet word soos gehalte-onderrig, veiligheid en gesondheidsorg.

Hy het ’n prentjie geskets van hoe die Solidariteit Beweging gaan of reeds besig is om dié plan ’n realiteit te maak deur byvoorbeeld die oprig van Helpende Hand-skenkingswinkels en basiese gesondheidsorgsentrums, Akademia-satellietkampusse, AfriForum-takke en -buurtwagte.

“Konsentrasie is ʼn plan wat werk. Suid-Tirool is ’n voorbeeld daaraan. Suid-Tirool is die noordelikste provinsie van Italië, wat maar sowat 2,5% van Italië se totale grondgebied uitmaak. Die Duitssprekendes wat hier woon, is maar 0,5% van die totale Italiaanse bevolking. In Suid-Tirool vorm die ongeveer 310 000 Duitssprekendes egter ’n meerderheid van meer as 60% van die bevolking. As gevolg hiervan geniet dié outonome provinsie aansienlike vlakke van selfbestuur, wat insluit dat die provinsie 90% van die inkomste daarvan mag behou,” meen Uys.

“Ons toekoms hang van ons eie pogings af. Kom ons slaan ook só die hand aan die ploeg en skep saam hoop vir ons toekoms.”

Soortgelyke plasings