|

Kompetisie wil Afrikaanse entrepreneurs met waagmoed hupstoot gee

’n Opwindende entrepreneurskompetisie, wat een van AfriVriendelik se inisiatiewe is, is vandag in Pretoria bekend gestel.

Dié kompetisie het ten doel om entrepreneurs, wat in Afrikaans sake doen, se onderneming ’n hupstoot en sommer baie blootstelling te gee.

Afrikaans-Vriendelik, ’n eenstopdiens vir alle entrepreneurs en sakeondernemings, het ook vandag ’n splinternuwe baadjie aangetrek. Dit sal in die toekoms een van vyf inisiatiewe van AfriVriendelik wees. Die ander is AfriKlets, waar AfriForum-lede mekaar kan ondersteun en eenmalige versoeke kan rig of aanbied, soos saamrygeleenthede.

Daar is ook AfriVriendelik-opleiding, die Tinteltong Toekennings en die entrepreneurskompetisie.

Volgens Sanderien van der Walt, projekkoördineerder van AfriVriendelik, bied die kompetisie ’n uitstekende geleentheid vir jong en gevestigde entrepreneurs om hul ondernemings uit te bou.

Inskrywings open vandag (20 Julie) en sluit op 30 September. Groot pryse is op die spel en sluit onder meer ʼn nuwe webwerf geborg deur MyGuru, ʼn advertensie vir gebruik op sosialemediaplatforms, asook ʼn mentorskapsessie met Meyer le Roux, een van die breine agter die bekende Buffelsfontein Baardolie-handelsmerk, in.

Lede van die publiek kan tussen 2 en 15 Oktober vir hul toptien gunstelingondernemings stem, waarna ʼn uitgesoekte paneel die wenner sal kies wat op 20 Oktober 2017 aangekondig sal word.

Le Roux het tydens die bekendstelling van die kompetisie by sy Buffelsfontein-restaurant in Pretoria gesê Afrikaanse entrepreneurs is soos boere, ook mense met waagmoed vir wie daar eintlik blomme en subsidies uitgedeel en rooi tapyte uitgerol moet word.

“Die regering is teen Afrikaanse entrepreneurs en wil die wêreld graag wysmaak Afrikaners het alles gesteel, behandel hul werkers sleg en is teen die sosialistiese ekonomiese stelsel. Net laasgenoemde is waar,” het hy grappenderwys gesê.

Volgens Le Roux wil die regering Afrikaner-entrepreneurs doodwurg en is al die eise wat vir ondernemings gestel word om aan bepaalde rade en verenigings te behoort net nog iets wat ontwerp is om vir “iemand ’n Mercedes Benz of KFC-emmer te koop”.

Hy meen Afrikaanse entrepreneurs moet wakker wees en veral met tegnologie bybly. Sy ander raad is om sosialemedia jou vriend te maak. “Moenie in ’n bekgeveg met iemand betrokke raak wat jou onderneming wil skade berokken nie. Gebruik eerder die ban en delete-knoppies.”

Om suksesvol te wees, moet entrepreneurs ook hul eie ego begrawe. “Onthou daar gaan altyd iemand wees wat slimmer is as jy en wat betaal word vir wat hy weet. Wees bereid om te leer.”

Le Roux meen ook entrepreneurs en Afrikaners kan meer suksesvol wees as hulle mekaar se ondernemings ondersteun. “Jy het nie nodig om iemand te dwing om met jou Afrikaans te praat, sake te doen of ’n diens te lewer nie. Gaan soek net na ’n onderneming wat dit vanselfsprekend doen. Dan sal jy weet jy is op die regte plek.”

Om vir die kompetisie in te skryf, besoek www.afrikaansvriendelik.co.za

 

Soortgelyke plasings