|

Kom vat vandeesmaand saam met AfriForum hande in George

Die AfriForum-tak in George en gemeenskapslede begin vandag moue oprol om dié Suid-Kaapse dorpie skoon te maak en reg te ruk.

As deel van die organisasie se #AnkerdorpPadskou skop die #SkoonWater-projek vir 2019 ook vandag by die Rosemoor-ouetehuis in George af. Takke landwyd is ook gemobiliseer om die drinkwater- en rioolwatergehalte in dorpe waar daar aktiewe AfriForum-takke is, te toets.

“Die regering is nie ernstig oor die gesondheid van Suid-Afrikaners nie. Dit is duidelik te bespeur uit die feit dat die departement van water en sanitasie (DWS) bankrot is en ’n parlementêre ondersoek in die gesig staar weens voormalige minister Nomvula Mokonyane se wanbestuur.

“Onder haar leiding is die laaste amptelike Blou- en Groendruppelverslag sewe jaar laas gepubliseer. Die ANC-regering probeer hul onbevoegdheid wegsteek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou, terwyl gewone mense daagliks onder dié waterkrisis gebuk gaan. Ons kan nie langer op die staat vertrou om veilige water te verskaf nie en daarom toets ons self die watergehalte,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake.

Die #AnkerdorpPadskou is ’n veldtog waartydens hoop in verskeie dorpe in die land geskep word. Heelparty selfdoenaksies word aangebied en die gemeenskap kry self die geleentheid om te help om hul omgewings mooier en skoner te maak.

As jy in George woon en betrokke wil raak, gaan kyk op die kalender waar die aksies in die volgende maand plaasvind.

Aksies sal geloods word rondom omgewingsake, munisipale kwessies, gesondheids- en veiligheidsoudits, gemeenskapsveiligheid en jeugaangeleenthede. Skole sal besoek word waar AfriForum se teenboelieveldtog leerders, ouers en onderwysers oor afknouery bewus sal maak. Ondernemings in die dorpe sal ook besoek word en AfriForum sal ook stalletjies beman waar die algemene publiek kan kom uitvind wat die organisasie alles doen.

Daar is ook geleentheid om skouers te skuur met entrepreneurs tydens AfriVriendelik se sakeontbyt op 24 Mei, waartydens die rugbylegende Kobus Wiese sy sakegeheime gaan deel. Kliek hier om jou plek te bespreek.

Die padskou in Maart in Rustenburg was ’n reusesukses en het die gemeenskap weer saamgebind en bewus gemaak dat elkeen sy deel moet doen om die plek waar jy woon en werk beter te maak. Ander dorpe wat later aan die beurt kom, is Nelspruit (Junie), Tzaneen (Julie), Krugersdorp (September), Secunda (Oktober) en Bethlehem (November).

Vir meer inligitng besoek www.ankerdorp.co.za

Soortgelyke plasings