--> -->
Spyskaart +

Kom ons bou nuwe voertuie vir nuwe tye

Junie 14, 2018 deur Flip Buys

Die afgelope jare word die een na die ander eeufees van suksesvolle organisasies soos Naspers, Santam, Sanlam en vele ander gevier. Dit getuig van die ontploffing van skeppende energie waarmee die Afrikaner in die jare ná die vernietigende Anglo-Boereoorlog uit die puinhope van verskroeide aarde en konsentrasiekampe opgestaan het. Die verhaal van die Afrikaner se selfhelpwonderwerk om binne een geslag vanaf ’n verarmde en swak geskoolde plattelandse groep tot ’n gemoderniseerde eerstewêreldgemeenskap te vorder, kry weens apartheid nie erkenning nie. Dít ten spyte van die feit dat dit ’n rare Afrika-suksesverhaal was. Ons kry die slegste van twee wêrelde: kritiek vir alles wat verkeerd was, sonder erkenning vir dit wat reg geloop het.

Die sleutelstrategie wat deur ons voorouers in hierdie moderniseringsproses gebruik is, was die skep van instellings of voertuie op alle belangrike terreine waar vordering noodsaaklik was. Daar is ’n reeks voertuie geskep op kulturele, ekonomiese, politieke, maatskaplike, sake-, onderwys- en landbougebied waarmee Afrikaners hulself gemoderniseer het.

Die doel van hierdie organisasies was om die Afrikaner teen Britse oorheersing te beskerm, asook om homself terselfdertyd op elke gebied op te hef. In die proses is Afrikaans ontwikkel, sakeryke gestig, skole en universiteite gevestig, die “armblanke“-vraagstuk opgelos, die land se infrastruktuur ontwikkel, die metrieke stelsel ingebring, en het Suid-Afrika onafhanklik van Brittanje geword.

Voertuie ná oorgang verloor

Nadat Afrikaners met behulp van hierdie voertuie op bykans elke gebied suksesvol was, het die groot oorgang in Suid-Afrika aangebreek. Tydens en ná die oorgangstydperk het die voertuie bykans almal gekwyn en verdwyn. Party het totaal ontbind, soos die NP; talle ander het totaal getransformeer, soos die voormalige RAU; ander is oorgevat en die oorblywendes het feitlik almal totaal verswak. Die Afrikaner het dus sy doelwit van omvattende modernisering bereik, maar in die proses sy voertuie waarmee dit gedoen is verloor. Daar is min van hierdie voertuie wat met harde werk en opoffering opgebou is oor, en baie van wat nog staan word afgebreek of verval weens verwaarlosing.

Normaalweg sou dit nie ’n probleem wees nie, omdat ’n voertuig nie meer nodig is nadat die bestemming bereik is nie. Maar dis nie so eenvoudig nie. Daar is weer ’n onsimpatieke regering aan bewind, en die somtotaal van sy beleidsrigtings is besig om die land te demoderniseer en Afrikaners se grondliggende belange te benadeel. Sonder genoeg sterk gemeenskapsinstellings kan die Afrikaner homself nie teen ’n oorweldigende regering beskerm of verhoed dat hy saam met die land demoderniseer nie.

Burgerlike instellings

Daarom is die strategie van AfriForum en die Solidariteit Beweging baie eenvoudig. Ons kan weens die getallesamestelling van die land nie op partypolitieke strategieë staatmaak nie. Daarom organiseer ons onsself in doeltreffende burgerlike instellings waarmee ons onsself kan  help, wat ons belange kan beskerm, grondwetlike regte kan verwerklik, en wat terselfdertyd met die owerhede in gesprek kan tree om waar moontlik ooreenkomste te kan sluit.

Natuurlik verskil die omstandighede van die verlede met dié van vandag. Mense is bekommerd dat daar nie meer vir hulle ’n toekoms in die land en op die vasteland is nie. Daarom moet die strategie nou wees om weer die omstandighede te skep waarin die Afrikaner blywend suksesvol in die land kan wees, sodat hulle terselfdertyd die land volhoubaar suksesvol kan help maak.

Konsentrasiestrategie

Maar omdat Afrikaners landwyd yl versprei is, het ons landwyd dieselfde probleme. Daarom dryf die verval van die platteland mense al meer na groter streeksentrums en sekere stede. Dis belangrik dat ons hierdie nuwe “Groot Trek” ondersteun met ’n konsentrasiestrategie waarvolgens ons meer dienste lewer op plekke waar daar ’n kritiese massa is om dit lewensvatbaar te maak. Die doel is om daar “groeiende selfbestuur” te vestig op soveel moontlik konsentrasiepunte, omdat ons al minder afhanklik van die staat sal kan wees. Die struktuur om hierdie strategie uit te voer moet weer eens sterk burgerlike organisasies op belangrike terreine wees. Ons voorouers het reuse-organisasies gebou in veel moeiliker omstandighede. Dis tyd dat Afrikaners ons bykanse verlamming ná 1994 afskud en weer begin bou. Dis moeilik maar moontlik. Sonder voertuie kan niemand tog sy bestemming bereik nie.