Knysna-brande: Foto bevestig Klatzow-bevinding oor ontstaan van vuur

 

’n Google Earth-foto wat op 20 April 2017 geneem is bevestig dat die westelike Knysna-vuur op die plaas Elandskraal begin het. Dit stem ooreen met die bevindings van dr. David Klatzow, die forensiese deskundige wat deur AfriForum aangestel is om die oorsaak van dié brande te ondersoek.
Volgens dr. Klatzow se verslag het die westelike brand op 12 April 2017 in die Elandskraal-omgewing naby die Karatara-rivier as gevolg van weerlig ontstaan. Luidens dié verslag het die vuur vir weke lank gesmeul voordat dit versprei en tot die verwoestende brande in en om Knysna gelei wat op 7 Junie 2017 begin woed het.

“Die bevindings word verder gestaaf deur ’n foto van die smeulende vuur wat op 22 April 2017 deur Morné Jonker, ’n plaaslike boer, uit ’n mikrovliegtuig geneem is. Op 29 April het dr. Wallace Vosloo, ’n grondeienaar in Elandskraal, ook ’n video van die smeulende vuur uit sy hommeltuig geneem. ’n Ander getuie het die gebied te voet besoek,” sê Reint Dykema, AfriForum se woordvoerder.

 

Soortgelyke plasings