|

Klein gebaar kan boervroue in droogtegebiede hoop gee

Die Boks-vir-’n-Boervrou-projek, wat deur twee vroue van die Wellington VLV aangepak is, is ’n verhaal wat die land aangryp en ’n tikkie hoop vir vroue in drooggeteisterde gebiede gaan bring.

Die land gaan onder van die ergste droogtes in 100 jaar gebuk en daar is daagliks hartverskeurende verhale van mens en dier wat in gebiede soos die karoo verskriklik swaarkry en in baie gevalle moed opgegee het.

Op sommige plase het dit vyf jaar laas gereën en talle boere moes hul vee drasties verminder. Vir ander is skenkings van bale deur boere op ander plekke in die land al wat hulle nog staande hou.

Die idee vir die bederfboks vir vroue het by Juanita Loubser en Karen Barnard ontstaan. Hulle hoop dat die bokse wat van regoor die land instroom ’n klein bietjie verligting vir vroue voor Kersfees sal bring.

Die projek behels dat ’n skoenboks of wynboks met items of produkte gevul word wat die vroue, hul mans en kinders kan gebruik soos badkameritems, sjampoe, tandepasta, lekkerruikgoed, lekkergoed wat nie smelt of breek, jellie, speserye, hawermout, noedels, tuna, kondensmelk, ontsmettingsmiddel, watte, bruistablette, tydskrifte, penne en potlode, pleisters, panado’s, cappuccino-sakkies, soppoeier, blikkieskos, lipstiffie, ’n mooi serpie, vadoeke, sneesdoekies, haarrekkies en skeermessies. Mense kan self besluit wat hulle alles in die bokse plaas, solank dit nie breekbaar is of sal smelt nie.

Al die bokse moet in koerantpapier toegedraai word en met ’n mooi lint daarom gebind word. Die bokse moet teen 31 Oktober/2 November by Wellingtn VLV wees.

AfriForum steun die projek en weldoeners het reeds bokse by die organisasie se hoofkantoor in Kloofsig afgelaai. Dit kan nog tot 30 Oktober hier afgelewer word, waarna dit na Wellington vervoer sal word.

Soortgelyke plasings