|

Klagtes stroom in teen omstrede BLF-leier

Andile Mngxitama, omstrede leier van Black First Land First, se uitlatings waarin hy dreig dat wit mense doodgemaak sal word, het tot ’n vlaag strafregtelike en ander klagtes teen hom gelei.

Mngxitama het Saterdag buite Potchefstroom gedreig dat hy 50 000 soldate sal bymekaarmaak om wit mense dood te maak in reaksie op ’n onlangse onderhoud wat Power FM 987 met die miljardêrsakeman, Johann Rupert, gehad het.

Mngxitama se uitbarsting was glo in reaksie op Rupert wat, in ’n oënskynlik ligte luim, gesê het hy het vriende in die taxi-bedryf en dat as daardie rooi ouens (met verwysing na die EFF) kom, hulle van die taxi-vereniging moet onthou.

Die burgerregte-waghond AfriForum, Solidariteit, die DA, die VF Plus en Cope het klagtes teen Mngxitama ingedien.

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om hofstukke op te stel om Mngxitama by die gelykheidshof van haatspraak aan te kla. In die stukke vra AfriForum dat die hof die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet versoek om ondersoek in te stel om Mngxitama strafregtelik te vervolg.

AfriForum vra voorts dat Mngxitama R500 000 moet betaal aan ’n organisasie wat hom beywer om haatspraak te beveg.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat Mngxitama hom aan blatante haatspraak skuldig gemaak het en geweld aangehits het.

Solidariteit het aangedui dat hy die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gaan nader om ’n klag teen die BLF in te dien om die party te stuit om aan volgende jaar se verkiesing deel te neem.

Volgens Solidariteit stel die Wet op die Verkiesingskommissie in artikel 16(1)(c) dit duidelik dat die hoofverkiesingsbeampte geen aansoek om as party in ’n verkiesing te registreer mag toestaan indien daardie party homself skuldig maak aan aanhitsing tot geweld of diskriminasie op grond van die algemeen aanvaarde verbode kategorieë nie. Solidariteit het sy steun ook aan die Menseregtekommissie (MRK) toegesê oor dié instelling se teenkanting om die BLF as politieke party te registreer.

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is dit absurd dat ’n party, waar uitlatings soos hierdie die norm is, enigsins deel vorm aan die openbare diskoers, wat nog te sê aan verkiesings deelneem. “Geen politieke leier wat met trots op ’n verhoog aankondig dat mense vermoor gaan word, moet naby aan ’n magsposisie toegelaat word waar hy hierdie aksies kan uitvoer nie. ’n Party wat ’n mandaat van moord soek, mag nie toegelaat word om aan die demokrasie deel te neem nie,” meen Mulder.

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, gaan ’n klag van aanhitsing tot geweld by die polisiekantoor in Potchefstroom teen MngXitama indien en dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, ’n strafregtelike klag. Cope sal glo ook ’n strafregtelike klag in die Noord-Kaap teen Mngxitama indien.

Musi Maimane, leier van die DA, het in die parlement gesê Mngxitama se uitlating kom neer op haatspraak en daar moet daarteen kapsie gemaak word.

Buang Jones, woordvoerder van die MRK, het gesê die kommissie het tientalle klagtes via sy sosiale media platforms teen Mngxitama gekry.

Intussen het talle Suid-Afrikaners op sosiale media gesê dit is tragies en ontstellend dat nóg pres. Cyril Ramaphosa nóg enige ANC-LP of ANC-raadslid Mngxitama se uitlatings veroordeel het.

  • AfriForum het lt. gen. Khehla Sithole, nasionale kommissaris van polisie, ook vandag versoek om ondersoek in te stel na Julius Malema, leier van die EFF, se bevoegdheid om ’n vuurwapen te besit. Ingevolge artikel 102 van die Wet op beheer van vuurwapens (Wet 60 van 2000), kan ’n persoon, ná ’n ondersoek deur die registrateur (die nasionale kommissaris van polisie), wel onbevoeg verklaar word om ’n vuurwapen te besit. Dít gebeur indien ’n persoon onder meer aandui dat hy/sy van voorneme is om hom/haarself of iemand anders met ’n vuurwapen of ander gevaarlike wapen te dood en/of vanweë die persoon se geneigdheid tot geweld. Volgens AfriForum dui Malema se verklarings op ’n gewelddadige natuur en behoort hy nie ’n wapen te besit of toegang daartoe te hê nie. AfriForum het vroeër vanjaar ’n klag teen hom aanhangig gemaak nadat hy by die EFF se vyfde bestaansjaar feesvieringe ’n voorwerp afgevuur het wat soos ’n aanvalsgeweer gelyk het.

Soortgelyke plasings