|

Kies die regte skool vir jou kind vóór jy registreer

Die Gautengse departement van onderwys se aanlyn registrasiestelsel vir gr. 1- en gr.8-leerders open eerskomende Vrydag.

Om die regte keuse ten opsigte van ’n skool vir jou kind te maak, wat vir die eerste keer laer- of hoërskool toe gaan, is nie maklik of vanselfsprekend nie. En gegewe die probleme en rompslomp rondom die aansoek- en registrasieproses, is dit veral belangrik om seker te maak jy klop by die regte skool aan. Dit is ook van kardinale belang dat jou kind na ’n skool gaan waar hy of sy gelukkig sal wees.

Dit is nie meer goed genoeg om die skool naaste aan die ouerhuis te kies of die een waarheen al die kind se maatjies gaan nie.

Navorsing wat die afgelope jare plaaslik en internasionaal gedoen is, wys dat hoewel dit belangrik is om algemene kwessies soos die skool se ligging, afstand van die leerder se woning, finansies, onderrigtaal, die etos en kultuur van ’n skool, vakverskeidenheid en buitemuurse aktiwiteite in ag te neem, daar ook meer klem is om ’n skool te kies wat aan jou kind se spesifieke belangstellings en unieke onderrigbehoeftes sal voldoen.

Dit is nie meer goed genoeg om die skool naaste aan die ouerhuis te kies of die een waarheen al die kind se maatjies gaan nie. Jy en jou kind moet julself belangrike vrae afvra soos: Wil hy of sy na ‘n skool gaan waar akademiese prestasies die belangrikste is? Wil hy of sy provinsiale kleure in een of ander sport verwerf? Is dit vir julle belangriker om emosionele en sosiale vaardighede te bemeester? Sal hy of sy floreer in ’n baie streng, formele en rigiede onderrig-situasie? Hoe belangrik is die gebruik van die mees moderne tegnologie in die onderrigsituasie vir julle?

Hier is ’n paar dinge wat jy kan doen, voor jy die groot besluit neem:

  • Besoek skole se webtuiste. Dit verklap baie van die professionaliteit, taalgebruik en gehalte van eksterne kommunikasie deur die skool. En ook hoe toeganklik die personeel is.
  • Woon die opedae van soveel skole moontlik by. Hier kom ’n mens baie van ’n skool se karakter en algemene gevoel te wete. Uit die optrede van die hoof en onderwysers kan jy ook agterkom of dit ’n “omgee-skool” is. Baie word ook verklap deur die optrede van leerders teenoor besoekers tydens opedae of in die algemeen. Tree hulle soos ambassadeurs van die skool op wat trots is om deel daarvan te wees of heers daar ’n gebrek aan dissipline waar leerders wanordelik ronddwaal of raas?
  • Bestudeer die gedragskode van die skool. Hieruit kan waardevolle inligting bekom word oor die skool se hantering van kwessies soos wedersydse erkenning en respek, boelies, ’n sosialemediabeleid, godsdiensbeoefening, verdraagsaamheid en die toepassing van strafmaatreëls.
  • Praat met ouers en leerders van die skool om uit te vind hoekom hulle by die spesifieke skool gelukkig is en waarom hulle dit vir nuwelinge sal aanbeveel.

Volg AfriForum se stappe en riglyne om te registreer hier: https://afriforum.co.za/gauteng-skoleregistrasie/

Soortgelyke plasings