|

Kerkstraatbom: Onthou is nodig omdat geskiedenis verdraai word

 

Dit is nodig dat geskiedkundige gebeure soos die Kerkstraatbom van 1983 onthou en herdenk word omdat daar vandag ’n eensydige en dikwels verdraaide narratief oor die geskiedenis is.

Só het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en vervaardiger van die dokumentêre film Tainted Heroes,  tydens ’n nuuskonferensie  in Pretoria gesê waar die slagoffers van die terreuraanval herdenk is.

Die motorbom wat deur die ANC geplant is, het op 20 Mei 1983 voor die Nedbank Square-gebou in Kerkstraat, Pretoria, ontplof. Negentien mense is dood en sowat 220 beseer. Die meerderheid van die slagoffers was burgerlikes.

Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) en genl. Johan van der Merwe, voormalige nasionale polisiekommissaris, was sprekers by die geleentheid.

Jeffery, ook skrywer van die boek People’s War, waarop Tainted Heroes gebaseer is, het gepraat oor die ANC se geskiedenis van gewelddadige en  propagandistiese optrede tydens die struggle-jare. Sy het verduidelik hoe die ANC  ’n doelbewuste strategie gevolg het, wat nie net ten doel gehad het om die Nasionale Party omver te werp nie, maar ook om hul swart opponente soos Inkatha uit te wis. Die strategie het bomaanvalle op harde en sagte teikens, protesaksies, betogings, stakings, halsmoorde en wrede aanvalle ingesluit.

“Ons lewe tans in die tweede deel van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR), wat meer radikaal is en waar nuwe beleide en voorgestelde wette die land se ekonomiese omstandighede net verder beskadig en werklose mense net verder benadeel.”

Van der Merwe het vertel wat op die dag van die ontploffing gebeur het, hoe dit op die toneel gelyk het en hoe dit deur die polisie ondersoek is.

Hy het gesê versoening is nodig in Suid-Afrika, maar dit kan nie eensydig gebeur nie. “Feite word verontagsaam en verwronge weergawes van die geskiedenis word deur die regerende party gebruik om hul propaganda verder te voer. Vir ware versoening het ons ware begrip en ubuntu en nie verdere viktimisasie nodig nie.”

’n Uittreksel uit Tainted Heroes is vertoon wat gefokus het op die Kerkstraatbom. Dit sal binnekort op Youtube beskikbaar wees.

Roets het ook aangekondig wat die verdere strategie rondom die verspreiding van die film is. Dit sal eers plaaslik vertoon word by Monte Casino in Gauteng (15 Junie), Mooi Rivier Mall in Potchefstroom (25 Julie),  Mimosa Mall in Bloemfontein (27 Julie) en Canal Walk in die Wes-Kaap (8 Augustus). Daar word tans gekyk hoe dit internasionaal bekendgestel kan word en plaaslik op DVD beskikbaar gestel en versprei kan word.

Soortgelyke plasings