|

Katalaanse president bedank AfriForum vir steun

Deur Alana Bailey

AfriForum het pas ’n brief van die stafhoof van die Katalaanse president, Carles Puigdemont, ontvang om dank te betuig vir AfriForum se steun vir Katalane se reg om self oor hulle toekoms te onderhandel.

Hierdie skrywe volg in reaksie op ’n brief wat op 28 September 2017 deur AfriForum aan die president en ander politieke en medialeiers in Spanje gestuur is.

Oor dekades word daar reeds vir Katalaanse onafhanklikheid, of ten minste ’n groter mate van selfbeskikking, voorspraak gemaak. In die jongste poging in dié verband is ’n referendum vir 1 Oktober 2017 gereël waarin inwoners van Katalonië ten gunste van of teen onafhanklikheid kon stem.

Hierdie soort referendums is geensins vreemd in Europa nie – in die onlangse verlede het soortgelyke prosesse in onder meer Skotland en Venesië plaasgevind – eersgenoemde amptelik, die ander nie-amptelik. Tog het die Spaanse regering van Marian Rajoy dit nodig geag om die referendum vooraf as onwettig te verklaar gebaseer op die grondwet wat Spanje ’n onverdeelde eenheid noem. Die wettig verkose Katalaanse streeksregering het weer op grond van haastig deurgevoerde streekswette aangevoer dat die referendum mag voortgaan.

Op 1 Oktober 2017 het kiesers hulle bes probeer om die referendum voort te sit te midde van hardhandige onderdrukking deur die Spaanse polisie. Sowat 2,6 miljoen Katalaanse kiesers, wat 42% van die totale aantal stemgeregtigdes in die streek uitmaak, het gestem – 90% was ten gunste van onafhanklikheid.

Die referendum het vir die grootste politieke krisis in Spanje in dekades gesorg. Die afgelope naweek het duisende mense in Barcelona weer teen afskeiding van Spanje betoog. Politieke spanning laai op.

Gisteraand het president Puigdemont die Katalaanse parlement toegespreek. Hy het verklaar dat hy die onafhanklikheidsverklaring van Katalonië onderteken het, maar dat die proses eers oor weke geïmplementeer sal word ten einde tyd te verkry vir gesprekke met die sentrale Spaanse regering. Dié stap skep verder die geleentheid vir die pro-onafhanklikheidsgroep om hulle posisie te verstewig, meer steun te werf en ook wyer simpatie in Europa te wen.

AfriForum se standpunt, wat ook in die brief aan president Puigdemont verwoord is, is dat ons as ‘n organisasie wat die burgerregte van minderhede in Suid-Afrika bevorder en beskerm, en meer spesifiek die regte van Afrikaners, die reg van die Katalane om hulle eie politieke en kulturele toekoms te bepaal, ondersteun.

AfriForum meen dit is onaanvaarbaar dat basiese burgerlike en menseregte en vryhede, wat in die VN en Europese handveste erken word, geskend is deur die sentrale Spaanse regering se pogings om te voorkom dat Katalaanse burgers aan hierdie referendum, ‘n demokratiese proses, deelneem. Die aksies het nie alleen uit die grootskaalse ontplooiing van die polisie met gepaardgaande geweldpleging teen voornemende kiesers bestaan nie, maar ook ingesluit die arrestasie en intimidasie van burgemeesters en ander amptenare, die sluiting van regeringswebtuistes en burgerlike samelewingsorganisasies, inmenging in die streeksregering se rekeninge en die konfiskering van stembriewe en -busse.

Hierdie drastiese stappe kan burgers en gemeenskappe net verder polariseer en sodoende die kanse belemmer om hierdie politieke kwessie deur demokratiese prosesse, dialoog en onderhandeling te besleg. Die skending van burgerlike en menseregte en vryhede in Europa kan verder ‘n gevaarlike presedent skep wat elders deur politieke rolspelers misbruik kan word om regte en vryhede wat met groot opoffering bekom is, weer om te keer.

AfriForum doen ‘n beroep op alle partye om dialoog te voer oor die toekoms van Katalonië. As hierdie benadering nie haalbaar is nie, ondersteun ons die oproep wat reeds deur die Vlaamse en Skotse streeksregerings gemaak is, naamlik dat internasionale bemiddeling moet plaasvind.

Die verdere verloop van die gebeure word met belangstelling dopgehou aangesien dit van belang is vir alle gemeenskappe wat selfbeskikking hoog aanslaan.

Soortgelyke plasings