|

Kanaliseer vigilante-woede positief om misdaad te help hokslaan

Suid-Afrikaners is verenig in hul woede oor misdaad en swak polisiëring. Die tyd het aangebreek om na alternatiewe oplossings te soek vir uiters hoë vlakke van geweld in die land.

Dít is die slotsom waartoe die burgerregte-organisasie AfriForum en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) vandag gekom het met die bekendstelling van ’n verslag oor hoe die oorlog teen misdaad in Suid-Afrika gewen kan word.

Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die SAIRV, het gesê in ’n demokrasie verwag landburgers dat die staat die rol moet vervul om hulle doeltreffend te beveilig. In Suid-Afrika gebeur dit nie en daarom is daar ’n dramatiese toename in private veiligheidsmaatskappy en vigilante-voorvalle waar gemeenskappe geregtigheid in eie hande neem.

Hy het gesê weens die polisie se onvermoë om mense se veiligheid te verseker en ’n algemene gebrek aan vertroue in die polisie, is dit noodsaaklik om na ander misdaadvoorkomingstrategieë te kyk. Net minder as die helfte van die bevolking meen die polisie is korrup, terwyl 59% hulle as lui bestempel.

Nuwe strategieë vir misdaadvoorkoming is ook nodig in die lig van die feit dat Suid-Afrika steeds een van die gevaarlikste lande ter wêreld is. Meer as 500 000 mense is die afgelope 20 jaar vermoor. Suid-Afrika se moordkoers is 7 keer hoër as in die VSA en 10 keer hoër as in Indië.

Daarbenewens het die aantal rooftogte by huise en ondernemings sedert 2003 drasties toegeneem. Huisrooftogte het tussen 2003 en 2016 met 130% gestyg.

Cronjé meen “ernstige misdade is besig om in die verkeerde rigting in die land te beweeg”.

Met verwysing na oplossing vir die misdaadkrisis het Cronjé gesê daar moet gekyk word na vennootskappe en koalisies tussen die polisie, private veiligheidsdienste en gemeenskappe. In die geval van gemeenskapsbetrokkenheid moet gekyk word hoe vigilante-optrede eerder positief gekanaliseer kan word om gemeenskappe binne die wet te help om misdadigers vas te vat. Gemeenskapspolisiëring is ook nodig om sigbaarheid te verhoog en gemeenskappe in staat te stel om misdadigers van hul strate te hou.

Hy het gesê Suid-Afrika se private sekuriteitsbedryf was in 1985 relatief onbeduidend met ’n beraamde 60 000 sekuriteitswagte wat in die land gewerk het. Tussen 1997 en 2014 het dié beamptes met 322% toegeneem tot 487 058 in 2014. Private sekuriteit is helaas nie die enigste werkbare oplossing nie omdat dit hoofsaaklik vir rykes ’n uitkoms bied en boonop die gevaar inhou dat dit ’n valse illusie skep dat “veiligheid gekoop kan word”.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het hierby aangesluit en verwys na die uitbreiding van die organisasie se buurtwagstrukture, patrollies en bemagtiging van gemeenskappe deur veiligheidsopleiding aan hulle te gee.

Hy het verwys na groot suksesse wat reeds behaal is in onder andere Elliot in die Oos-Kaap, Bloemfontein en Vanderbijlpark.

“AfriForum se Elliot-model kan as voorbeeld dien van ’n samewerkingsooreenkoms wat uit die gemeenskap ontstaan het. Koalisies is tussen die inwoners van die townships en die boere van die Elliot-omgewing gevorm en dié twee partye saam het ’n uiters suksesvolle buurtwag gestig.”

AfriForum het reeds meer as 80 buurtwagte waarvan sommige uiters suksesvol is.

Moord Poging tot moord Verswaarde roof Algemene roof Huisroof Besigheidsdiefstal Dwelmverwante misdaad
Jaar
1994-1995 25,965 26,806 84,785 32,659 231,355 87,600 45,928
2003-2004 19,824 30,076 133,658 95,551 299,290 64,629 62,689
2010-2011 15,893 15,360 101,039 54,442 24,6612 68,907 150,561
2014-2015 17,805 17,537 129,045 54,927 25,3716 74,358 266,902

 

Soortgelyke plasings