|

Kanadese studente geïnteresseerd in wat AfriForum doen

’n Groep van sowat 30 Kanadese studente, verbonde aan die Canadian Mennonite University (CMU), het vandag AfriForum se hoofkantoor besoek om meer oor die burgerregte-organisasie se doen en late uit te vind.

CMU is ’n Christelike universiteit in Winnipeg, Manitoba. Die studente is deel van die Outtatown Discipleship School-program by die universiteit. Hulle besoek vanjaar Suid-Afrika en Guatemala. Hulle word tydens hul besoek gehuisves deur ledemate van die Gereformeerde Kerk.

Van hulle studeer politieke wetenskappe en ekonomie en het ná ’n inligtingsessie vrae oor die Suid-Afrikaanse regering, die kwynende ekonomie, plaasmoorde en onderwys gehad.

Dit was die meeste van hulle se eerste besoek aan die land en die enigste konsep waarvan heelparty kennis gedra het, is “apartheid”. Hulle was veral verbaas om van die hoë vlakke van misdaad, moorde, verkragting en korrupsie kennis te neem.

’n Video van Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, oor plaasmoorde, die omvang daarvan en die regering se houding daaroor, het hulle nuwe insig in dié krisis in die land gegee.

Hulle het heelwat belangstelling in die Schweizer-Reneke-saak getoon wat tot heelwat vrae rondom die hantering van amptelike tale in skole, rassisme, regstellende aksie en die onderwys gelei het. Van die studente wou weet waarom die regering nie voorsiening maak vir onderrig in al die landstale nie.

Hulle is ingelig oor AfriForum se plaaslike en internasionale veldtogte rondom die prioritisering en bewusmaking van plaasmoorde en die regering se voorgenome beleid oor onteiening sonder vergoeding. Daar was ook heelwat belangstelling in AfriForum se fokus op geregtigheid en die hofsake wat die organisasie in dié verband aanpak.

Kraal Uitgewers het ook die belangrikheid van die druk van hoë gehalte Afrikaanse boeke en literatuur verduidelik wat daarop gemik is om Afrikaans te bevorder en die geskiedenis te bewaar.

Die studente het ook kennis geneem van die werk wat AfriForum in gemeenskappe rondom veiligheid, identiteit en die Afrikaanse kultuur en taal doen. Hulle het ook ’n besoek aan die Voortrekkermonument gebring.

Soortgelyke plasings