Spyskaart +

Kan Afrikaans ’n universiteit bou?

Februarie 26, 2018 deur Alet Rademeyer

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Die onlangse Kovsie-uitspraak was ’n skok vir baie. Wat almal van ons in praktyk sien gebeur het, het grondwetlik neerslag gevind. Afrikaans is uit die openbare ruimte verban.

Heelwat is daaroor geskryf. Voormalige president F.W. de Klerk het gesê die ANC het Afrikaners en ander partye mislei en talle kommentators het op die onderliggende denkfoute wat die regters begaan het, gewys.

Dit is tereg so dat Afrikaans onder ongelooflike druk in die openbare ruimtes is.

Die druk bring Afrikaans egter voor een van haar grootste toetse te staan. Kan die taal sonder die staat op die hoogste vlak oorleef? Met ander woorde, kan Afrikaans ’n eie universiteit bou?

’n Universiteit is ’n taal se selfaktualisering. Die volle wasdom van ’n taal vind in ’n universiteit neerslag. Gemeenskappe wat hul taal as akademiese taal ontwikkel het, voel dat hul taal kan en daarom kan hulle. Dit lei tot kollektiewe selfvertroue wat tot verdere ontwikkeling van die gemeenskap lei.

Die teenoorgestelde geld egter ook. ’n Taal sonder ’n universiteit lei tot ’n kollektiewe swak selfbeeld. As my taal nie kan nie, kan ek ook nie, is die gevoel van universiteitlose gemeenskappe. Studies deur middel van ’n ander taal as onderrigmedium is ’n voortdurende herinnering daaraan dat die taal nie kan nie.

Die onlangse uitrangering van Afrikaans by universiteite bring Afrikaans as universiteitstaal voor ’n bestaanskrisis te staan. Sprekers van Afrikaans kan hul taal as hoëorde-universiteitstaal opgee. Die gevolg oor die langer termyn is ’n gevoel dat my taal nie kan nie en alles wat daarmee gepaardgaan.

Die ander alternatief is ’n besluit deur die sprekers van Afrikaans om ’n universiteit te bou – sonder die staat, ’n universiteit uit die kulturele energie van die gemeenskap. Dit is waarskynlik die mees bevrydende stap om te neem – ’n taal met ’n eie universiteit, los van die staat. Los van die staat beteken nie geïsoleer van die staat nie. Só ’n universiteit sal altyd in dinamiese interaksie met die wêreld rondom hom wees.

Dit is uit hierdie bevrydende gedagte wat Akademia gebore is – ’n vrye universiteit wat nie gedienstig is aan die staat nie en wat vormend op sy studente kan inwerk. Dit is ’n universiteit wat die onbeperkte grootheid van God se skepping ontdek en aansluiting vind by honderde universiteite wêreldwyd wat binne dieselfde tradisie staan. Dit is ’n universiteit wat wêreldklas is in Afrikaans.

So woedend as wat dit ons almal gemaak het, het die Kovsie-uitspraak Afrikaans ontstaan en vierkantig in die hande van die gemeenskap geplaas. ’n Afrikaanse universiteit sonder die staat se betrokkenheid is ’n reuseprojek, maar as Akademia klaar ontwikkel is, gaan Afrikaans na haar projek kyk en sê: “My taal kan regtig, met alles wat daarmee saamgaan.”