|

Kameeldrift-polisiereserviste kan weer misdaad help hokslaan danksy AfriForum

Danksy volgehoue druk deur die burgerregte-waghond AfriForum kan Kameeldrift-polisiereserviste binnekort weer optimaal benut word om misdaad in hul omgewing te help bekamp.

Dít volg nadat die organisasie vandeesweek in kennis gestel is dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Kameeldrift-polisiereserviste opgeroep het om hul jaarlikse skietopleiding te voltooi sodat hulle hul status as polisiereserviste kan behou.

Die burgerregte-organisasie beywer homself al die afgelope twee jaar om die SAPD te verplig om reserviste as bykomende mannekrag te gebruik. ’n Aansoek, gedryf deur AfriForum, is op 3 April 2019 teen verskeie rolspelers in die SAPD in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor. ’n Bevel is teen die SAPD bekom om die geraakte reserviste vir die nodige opleiding te stuur sodat hierdie reserviste in die poel van bruikbare lede gevoeg kan word om misdaad te help bekamp.

Volgens Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, het die SAPD voorheen op verskeie geleenthede aangevoer dat hulle te dun versprei is en te min hulpbronne het om te doen wat van hulle verwag word, maar terselfdertyd geweier of gesloer het om die reserviste op te lei en bestaande beamptes vir heropleiding te stuur.

Dit het tot gevolg gehad dat reserviste nie daartoe in staat is om die SAPD na behore te ondersteun nie aangesien hulle nie kragtens wetgewing bevoeg is om vuurwapens te hanteer nie. Weens dít het die aantal polisiereserviste tussen 2010 en 2018 met 80% gedaal en ongeveer 60 000 lede het verlore gegaan vir diens aan die gemeenskap.

“Reserviste help sonder om daarvoor vergoed te word. Al wat hierdie persone wil hê, is om in staat gestel te word om ’n diens en waardevolle bydra aan die gemeenskap te lewer,” meen Kamfer.

“Hierdie sukses is veral belangrik omdat dié gebied geteister word deur ‘n vlaag van misdaad soos plaasaanvalle. Indien daar van die beskikbare reserviste gebruik gemaak word, het die SAPD dadelik bykomende lede tot hul beskikking wat kosteloos ’n diens kan lewer.”

AfriForum ondersoek tans ander gevalle in Suid-Afrika om soortgelyke aansoeke van stapel te stuur ten einde die SAPD se hand te sterk.

Soortgelyke plasings