Kameeldrift-Oos-polisiekantoor onder die loep


Ondanks ’n vlaag van misdaad wat Kameeldrift in Pretoria teister, blyk dit dat die SAPD eenvoudig in die ander rigting kyk omdat daar geen daadwerklike stappe geneem word om broodnodige verligting aan dié landbougemeenskap te bied nie.

AfriForum het verskeie aksies van stapel gestuur om die beleërde gebied by te staan in hul stryd om die SAPD tot verantwoording te roep sodat die plaaslike polisiestasie na behore kan funksioneer om die gemeenskap doeltreffend te kan help.
AfriForum het onder meer ’n  aansoek in die hof geloods om die SAPD te verplig om reserviste vir die voorgeskrewe opleiding te stuur, sodat hulle die onderbemande polisiekantoor kan aanvul. AfriForum moniteer ook die ondersoek van verskeie sake in die area, waaronder dié van oud-Springbok Naka Drotské, wat gedurende ‘n aanval op sy broer se plot gewond is. ’n Ander saak is dié van Manie Entres, wie se vrou in sy teenwoordigheid vermoor is. In beide gevalle was die SAPD se gebrekkige ondersoekvermoë skokkend. AfriForum het reeds sy misnoeë hieroor uitgespreek in ’n skrywe aan genl. Wiese, klusterhoof van die area. Genl. Wiese het nog nie op die skrywe geantwoord nie, ondanks opvolgskrywes in dié verband.

“AfriForum deel die Kameeldrift-gemeenskap se frustrasies en sal aanhou om aksies in die area van stapel te stuur wat die SAPD dwing om hul grondwetlike mandaat te vervul,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid in die noordstreek.
“As burgerregtewaghond slaag AfriForum keer op keer met hul inisiatiewe daarin om wetstoepassingsowerhede tot verantwoording te roep. AfriForum sal met hierdie volhou,” sê Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder by AfriForum se gemeenskapsveiligheid­afdeling.

Soortgelyke plasings