|

Kallie Kriel pak Panyaza Lesufi kaalvuis oor vyandigheid teen Afrikaanse Skole

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, sal Donderdag kaalvuis onder Panyaza Lesufi, omstrede en ideologies gedrewe LUR vir onderwys in Gauteng, inklim oor sy openlike vyandigheid teen Afrikaanse skole.

Hulle sal aan ’n debat in Tembisa aan die Oos-Rand deelneem.

Lesufi gebruik knaend die argument dat Afrikaans toegang vir ander (lees Engelse) leerlinge tot skole belemmer.

Hy het die afgelope maande ’n fel stryd vir die wegdoen met Afrikaanse skole gevoer en ongelukkig is sy hand gesterk in die onlangse konstitusionele hofuitspraak wat beslis het dat hy voortaan die mag het om te besluit wie na openbare skole in Gauteng mag gaan.

AfriForum se standpunt is dat Lesufi eerder moet ophou met sy polities gedrewe aanslag op Afrikaanse skole en iets moet begin doen aan die oorgrote meerderheid wanfunksionele skole in die provinsie waarheen die meerderheid ouers nie meer hul kinders wil stuur nie. Townshipskole loop leeg omdat die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) die septer hier swaai en meehelp aan die feit dat geen gehalte-onderrig daar plaasvind nie.

Benewens dit ignoreer Lesufi en talle ander politici en amptenare die internasionaal erkende basiese mensereg dat kinders in hul moedertaal onderrig mag ontvang.

Kriel sal Lesufi ook aanvat oor die blatante leuens wat hy verkondig  in ’n poging om Engels op alle skole in die provinsie af te dwing.

In ’n artikel in Beeld vandag wys Kriel daarop dat Lesufi nie Afrikaanssprekendes se intelligensie moet onderskat nie.

“Lesufi moet weet dat Afrikaanse ouers en organisasies soos AfriForum nie goedsmoeds sal toekyk hoe jong kinders geteiken word net sodat die regerende elite se teen-Afrikaans agenda bevorder kan word nie.

Volg die debat tussen Kriel en Lesufi Donderdag vanaf 10:00 op Facebook en Twitter.

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings