Kaapstad – bo blink, onder stink


Die AfriForum-tak in Kaapstad-Noord het watertoetse deur ’n onafhanklike laboratorium op ’n watermonster uit die Swartrivier laat doen, en die resultate is kommerwekkend: E. coli-vlakke is 50 keer hoër as die toegelate maksimum wat deur ’n rioolaanleg vrygestel mag word.

“Suid-Afrikaanse wetgewing laat geen besoedeling toe nie, maar regulasies maak voorsiening vir E. coli-vlakke van tot en met 1 000 kve/100 ml,” sê Bernard Pieters, omgewingswoordvoerder vir AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

Die toetspunt is 1,3 km voor die uitmonding in die see, wat beteken dat die hoë E. coli-vlakke ’n invloed op die seelewe kan hê. Die Milnertonvlei is ook naby die toetspunt geleë en hierdie besoedeling kan dus nadelige gevolge daarvoor inhou. Verdere risiko’s sluit in dat die besoedelde water teen die kus kan opstoot en strande en hengelgebiede besmet.

“AfriForum moet self die gehalte van gemeenskappe se drink- en rioolwater moniteer omdat die regering versuim om sy pligte in hierdie verband na te kom,” sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

AfriForum sal self ondersoek instel om die oorsaak van die besoedeling vas te stel.

Soortgelyke plasings