|

Kaapse Korps-veterane amptelik erken ná AfriForum ingryp

“Ons is nie ‘swart genoeg’ om deur hierdie proses gehelp te word nie. Ons soek net dieselfde erkenning en respek as enige ander persoon wat ’n uniform gedra het.”

Só sê Luke Plaatjies, president van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps en Militêre Veterane-vereniging (SAKKMVV). Danksy AfriForum se ingryping word die SAKKMVV nou amptelik as ’n veteranegroep deur die departement van militêre veterane erken.

Die SAKKMVV is ’n militêre veterane-organisasie wat uit voormalige lede van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps (SAKK) bestaan. Die SAKK is saamgestel uit bruin/Khoisan-soldate wat vanaf 1966 tot 1989 deel van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) was en tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog ontplooi is.

Daniël Eloff, regsverteenwoordiger verbonde aan Hurter en Spies, het vandag tydens ’n mediakonferensie in Pretoria verduidelik dat die SAKKMVV se uitvoerende komitee AfriForum in Oktober 2017 om hulp genader het nadat die departement van militêre veterane gesloer het met die veteranegroep se aansoek om erkenning.

Ná ’n verdere gesloer het AfriForum se regspan die departement op terme geplaas en in reaksie hierop het Derrick Mgwebi, waarnemende direkteur-generaal van dié departement, ’n dag voor die sperdatum wat AfriForum aan hulle gestel het skriftelik aangedui dat die SAKKMVV nou wel amptelik erken word.

Plaatjies het tydens die konferensie sy dank teenoor AfriForum uitgespreek vir die rol wat die burgerregte-organisasie gespeel het om te verseker dat SAKK-soldate nou uiteindelik erkenning as militêre veterane ontvang.

Van die voordele waarvoor erkende Suid-Afrikaanse veterane in aanmerking kan kom sluit onder meer vergoeding vir trauma, finansiering vir verdere studies, begrafnisondersteuning, sosiale noodverligting en gesondheidsdiens in.

Volgens Plaatjies is dit ’n skande dat die meeste SAKK-soldate sedert dié eenheid se ontbinding in 1992 nie in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) geïntegreer is en hulp ontvang het om weer opgelei te word of alternatiewe werk te kry nie. “Die amptelike erkenning van die SAKKMVV bied nou ’n stewige basis vanwaar die organisasie voortaan vir die belange van ons lede wat tot dusver uitgesluit is kan veg.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die konferensie daarop gewys dat hierdie voormalige lede van die weermag geen staatsondersteuning ná hul diens ontvang het nie ondanks die feit dat ander groepe soos uMkhonto we Sizwe, die voormalige militêrevleuel van die ANC, dit wel ontvang het.

“Die feit dat bruin soldate van die SAKK misken is en nie dieselfde voordele as ander groepe soos uMkhonto we Sizwe ontvang het nie, is ’n simptoom van die groter probleem dat lede van die bruin gemeenskap vandag steeds benadeel word. Die SAKK-soldate verdien erkenning vir die groot rol wat hulle in die geskiedenis gespeel het en daarom het AfriForum, as burgerregte-organisasie wat geregtigheid nastreef, onmiddellik ingestem om die SAKKMVV te help toe hulle ons genader het.”

 

Soortgelyke plasings