|

Julius Malema verloor hofsaansoek oor “apartheidswet”

Julius Malema, leier van die EFF, het ’n bloutjie in die Pretoriase hooggeregshof geloop waar sy aansoek om die Wet op Oproerige Byeenkomste (Wet 17 van 1956) ongeldig en onwettig te verklaar vandag van die hand gewys is.

Malema het vroeër aangevoer dié wet is ’n “apartheidswet” wat daarop ingestel is om die ANC se Vryheidsmanifes te beveg. Hy wil hê die wet moet geskrap word.

Hy het die aansoek gebring hangende twee hofsake waarin hy en die EFF aangekla is dat hulle mense aangemoedig het om grond onwettig te beset.

Malema het verlede jaar in die landdroshowe in Newcastle en Bloemfontein verskyn nadat AfriForum klagtes van aanhitsing tot geweld en om ’n misdaad te pleeg teen hom ingedien het. Die klagtes spruit uit voorvalle en byeenkomste waar Malema sy ondersteuners aangemoedig het om grond onwettig te beset.

Regter Aubrey Ledwaba het bevind die EFF se hofaansoek is niks anders as ’n verdediging teen die klagtes wat teen Malema ingedien is nie.

AfriForum verwelkom die hofbeslissing teen Malema.

“AfriForum is verheug oor die uitspraak, en sal toesien dat die lang arm van die gereg Malema en die EFF bydam indien hulle hierdie ondeurdagte en onverantwoordelike uitsprake maak. Malema is een van diegene in magsposisies wat die veiligheid en regte van burgers bedreig deur roekelose magspeletjies,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Die burgerregte-waghond is met ander sake teen Malema besig waarvan meer inligting binnekort bekendgemaak sal word. Malema het intussen aangedui dat hy hom tot die Konstitusionele Hof gaan wend.

AfriForum is tans besig met verskeie soortgelyke sake rondom die EFF en Julius Malema.

Soortgelyke plasings