--> -->
Spyskaart +

Julius Malema se dreigemente van doodslag, oorvat en afvat

November 15, 2017 deur Flip Buys

Julius Malema se politieke taktiek is opruiende uitsprake en vurige dreigemente. Dit is die enigste manier waarop hy mediadekking kan kry. Dit lyk soms of die media oorboord gaan om sy politieke konserte te dek, omdat hy daarop uit is om mense kwaad te maak. Hy soek skoor en aandag. Ons kry ook gereelde navrae met versoeke dat daar teen  hom opgetree moet word. Mense vra soms of hy dit of dat haatliks mág sê. Die antwoord is gewoonlik dat hy nie mag nie, maar dat hy kan. Daarmee word bedoel dat ‘n politkus byna enige iets kan sê, omdat sy bedoeling reeds is om die nuus te probeer haal met omstrede uitsprake. Die vraag is hoe sy opstokery hanteer moet word?

Ek gaan dit beantwoord deur na die Spartane se antwoord op Koning Philippus II van Macedonië se dreigemente te verwys. Philippus het gedreig om Sparta met sy gevreesde leër te verwoes en almal dood te maak as hy Sparta binneval.

Die Spartane het met een woord geantwoord: “As.” Hierdie kenmerkende Spartaanse antwoord dui op die oorsprong van die woord “lakonies” wat kort, kragtig en gevat beteken. Lakonië was die streek se naam waar Sparta geleë was. Die Spartane het grootpraat en lank praat geminag. Hulle het hul antwoorde kort gehou en eerder hul dade laat tel.

Boblite

Hiermee wil ek sê dat mense nie op hol gejaag moet word deur Malema se aandagsoekery en uitspattige sêgoed nie. Sy party het lelik pak gekry in die vorige verkiesing; sy optogte   trek al minder mense wat al verder aangery moet word; en raas en blaas bly sy enigste “wapen” om steun te probeer aas. Moet julle nie steur aan Minibob en sy Boblite-uitsprake nie. Hy kan nie die land demokraties oorneem nie, en nog minder met geweld. En as dit by die punt kom waar hy sy dreigemente probeer uitvoer, sal hy agterkom dat daar ’n groot verskil tussen praat en doen is. “As”.

Die ANC was mt die vorige verkiesing bang dat hul stemme na die EFF sal verloor, en het vir Malema probeer oortref met radikale uitsprake. Die gevolg was dat hulle self steun verloor het. Die verkiesing was dus ‘n stem teen radikalisme. Ja, hier is baie moordernaars en geweldenaars in die land, maar hulle bly ‘n minderheid. Ja, daar is swak politieke verhoudinge en opruiende stellings op sosiale media, maar in die werklike lewe is daar nog goeie persoonlike verhoudinge. Dink maar aan die vorige tien keer wat jy met ‘n lid van ‘n ande rassegroep gepraat het. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rassebetrekkinge het vroeër in 2017 in ‘n omvattende opname bevind, dat net 3% van alle Suid-Afrikaners rassisme as ‘n ernstige probleem sien.  Mense is ver meer bekommerd oor werkloosheid, swak dienste en misdaad.

Kom ons leer by die Spartane: sê net “as.” Moenie ’n dwaas na sy sotheid antwoord nie, omdat hy juis reaksie soek wat hom meer propaganda gee. Moenie skrik nie, moenie vir jou roer mik nie, en moenie sy video’s en propaganda aanstuur dat dit mense op hol jaag nie. Ignoreer hom, bevorder goeie verhoudinge waar jy kan, en woon en werk rustig voort. Maar die Spartane het nie net teruggesit nie. Hulle het hulself bewapen, deeglik geoefen, en hulle huise bewaak. Hulle vyande het geweet dis selfmoord om Spartane aan te val. Daarom is verantwoordelike en wettige vuurwapen eienaarskap belangrik, solank jy oefen om jou wapen veilig te kan gebruik. Help ook jou buurtwag uitbou om jou woongebied veilig te hou. Misdadigers teer op weerloses, maar val nie weerbare burgers aan nie. Ons sal veilig kan slaap as ons beter georganiseer as die misdaadbendes is. Soos die bekende George Orwell van “Animal Farm” gesê het: “Ons slaap veilig in ons beddens omdat rowwe manne buite in die nag regstaan om ons met geweld te beskerm teen diegene wat ons wil uitdelg.”