|

Jou stem is van groot waarde op 8 Mei

Die Solidariteit Beweging en sy lede-organisasies is polities onverbonde en nie tot enige politieke party verbind nie.

Die Beweging verteenwoordig egter ’n betekenisvolle meer as 500 000 mense en meen dit is van kritiese belang dat lede in die komende verkiesing stem, en wel ’n ingeligte besluit maak oor vir wie hulle gaan stem.

Die Beweging het vandag sy Jou verkiesing-stembepaler bekendgestel wat die publiek meer inligting oor brandpunte en die standpunte en manifeste van verskillende partye gee. Dit is beskikbaar by https://solidariteit.co.za/stem-bepaler/

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het op ’n nuuskonferensie gesê mense is met reg ontevrede oor die swak regering. “Deur te stem het jy ’n kans om jou stem hieroor te laat hoor.”

Buys sê Suid-Afrika is nie ’n normale demokrasie nie en in enige ware demokrasie sou ’n regering wat ’n land tot in die grond bestuur en ’n geskiedenis van korrupsie het beslis nie na die sewende agtereenvolgende verkiesing weer ingestem word nie.

Die feit is die ANC-regering het die staat gekaap en is skuldig aan wanbestuur, korrupsie en kaderontplooiing. Meerderheidsregering het tot meerderheidsoorheersing gelei. “Ná 25 jaar van ANC-regering is die land op ’n afgrond. Die verlies van triljoene rande deur pres. Jacob Zuma se toedoen, is met die goedkeuring van die ANC gedoen.”

Daarbenewens verkoop die ANC op die vooraand van die verkiesing talle onwerkbare projekte soos onteiening sonder vergoeding, die nasionale gesondheidsversekering, rassewette en bykomende belasting aan kiesers wat in enige werkbare demokrasie net tot ondergang sal lei.

“Ons kan nie berus by die verval van die land en tweedeklasburgerskap vir minderhede nie. Ons moet ons regmatige kulturele ruimtes en regte opeis. Ná die verkiesing sal die Beweging meer van sy planne bekendmaak om momentum aan Plan B te gee. Plan B behels dat meer selfverantwoordelikheid vir gemeenskappe se toekoms geneem word. Gemeenskappe moet meer staatsbestand en minder staatsafhanklik raak. Om dit te bereik moet daar groter privatisering van staatsfunksies wees. Nie om Afrikaners af te sonder nie, maar om omstandighede te skep waar ons vreedsaam kan saamleef.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie skryf nie vir sy lede voor vir wie hulle moet stem nie. “Hulle is slim genoeg om self te besluit. Dit is egter belangrik om wel te stem om ’n tweederde-meerderheid vir die ANC en EFF af te weer.”

Hy moedig AfriForum-lede aan om vir die party van hul keuse te stem.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê elke kieser moet weet dat sy stem iets weeg. “Ons kom uit ’n geslag wat ’n verskil gemaak het. Ons moet stem vir mense wat ook in die toekoms ’n betekenisvolle verskil gaan maak. Ons glo in gemeenskapskrag en ons moet saam vorentoe. Wanneer ons lede op 8 Mei gaan stem, wil ons hulle aanmoedig om ’n stem uit te bring wat in jou gesin en gemeenskap weeg en ’n verskil sal maak.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê kultuurkwessies is tradisioneel as sagte kwessies gesien. In die 90’s het dit egter verdeeldheid gebring en ’n versigtigheid by mense geskep om iets daarvan te maak. Aanslae op monumente, erfenisse en simbole soos vlae het egter tot vervreemding van en diskriminasie teen minderhede gelei. “Hierdie kwessies het die slaansak geword om Afrikaners mee te looi. Die Afrikaner se belewing van kulturele onverdraagsaamheid is vandag waarskynlik die ergste sedert die Anglo-Boereoorlog.

“Wie sou ooit dink dat Afrikaans by Tukkies, Kovsies en Maties sou sterf, dat C.R. Swart se standbeeld in ’n visdam sou opeindig en dat Jan van Riebeeck as die grootste misdadiger ooit voorgehou sou word?”

Langner meen kiesers het ’n verantwoordelikheid om te stem vir die behoud van hul erfenis. “Baie dinge het die afgelope tyd gebeur en ons het met nuwe kulturele selfvertroue begin optree. Ons moet nee sê vir boelies wat ons kultuur aanval.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die vakbond se werk is nie politiek nie. “Ons bou en werk om instellings te bou. Ná 8 Mei sal ons nog groter bou. Nie op ’n eiland nie, maar binne die werklikhede wat rondom ons afspeel.”

Volgens Hermann het ’n opname deur Solidariteit se navorsingsinstituut getoon dat 86,7% van die organisasie se lede gaan stem. “In twee partye is die Afrikaanse stem bepalend. Ná die verkiesing sal partye alliansies vorm en binne die alliansies sal daar bedinging moet wees. Sonder die Afrikaanse stem kan daar nie alliansies wees nie.”

Soortgelyke plasings