J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit vaar goed én sleg in AfriForum se vullisterreinouditprojek


AfriForum het verlede week die vullisterreine in Potchefstroom en Ventersdorp besoek as deel van dié burgerregte-organisasie se vullisterreinouditprojek. Dié oudit vorm deel van ’n jaarlikse nasionale veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 33 vrae gemeet word.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit toegangsbeheervereistes en brandregulasies in, asook regulasies oor onwettige storting, omheining en rehabilitasie. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om AfriForum se oudit te slaag.
Die vullisterrein in Potchefstroom het 94% behaal. Die bestuur van hierdie vullisterrein word aan The Waste Group Operations uitgekontrakteer en dit is een van die min vullisterreine in die land wat aan wetlike vereistes voldoen. Dít sluit onder meer die volgende in: Toegangsbeheer by die ingang, sekuriteitswagte op die terrein, ’n funksionerende infrastruktuur, ’n terreinbestuurder en ’n kantoor met ’n afvalbestuursplan. Ongelukkig skiet die vullisterrein in Ventersdorp ver te kort.

“In kontras hiermee het Ventersdorp se vullisterrein slegs 4% behaal. Die munisipaliteit beskik nie oor ’n afvalbestuurslisensie nie, paaie word nie in stand gehou nie en daar is geen munisipale werkers op die terrein nie,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraal-streek.

AfriForum het nagenoeg 120 vullisterreine geoudit in gebiede waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Dié uitslae gaan in ’n verslag opgeneem en aan die departement van omgewingsake oorhandig word.

“Ons is dankbaar vir die departement se samewerking en dat die provinsiale afvalbestuursbeamptes vir ons oudits beskikbaar gestel het,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

Na afloop van dié projek gaan AfriForum in samewerking met ’n afval-tot-energie-maatskappy ’n alternatiewe plan vir vullisterreine in Suid-Afrika bekend stel. Soortgelyke projekte is uiters suksesvol in ander lande.
AfriForum het aanmaningsbriewe aan munisipaliteite gestuur waar die vullisterreine nie op standaard is nie. Die burgerregte-organisasie het verder aksieplanne en teikendatums versoek wat in plek gestel moet word om te verseker dat vullisterreine op ’n wettige en omgewingsvriendelike wyse bestuur word.
Die ouditverslag sal ook vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite aan die Groen Skerpioene oorhandig word. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op standaard gebring word.

Soortgelyke plasings