|

Inwoners veg verbete teen korrupte burgemeester se skrikbewind

Noem die naam Andrina Matsemela in Mokopane (Potgietersrus) en die inwoners van die dorp en township spoeg vuur.

Dié burgemeester van die Mokgalakwena Plaaslike Munisipaliteit voer glo ’n skrikbewind in die dorp. Weens haar politieke verbintenisse is sy klaarblyklik onaantasbaar en gevolglik is dit gewone mense wat die meeste ly.

Die dorp is soos talle ander plattelandse dorpe ’n toonbeeld van verval en agteruitgang. Die strate is vuil en vol slaggate en die inwoners is ontevrede oor die totale gebrek aan dienslewering en ’n korrupte plaaslike regering.

In die geval van Mokopane wil dit voorkom of dit hier selfs erger as op baie ander plekke gaan. Hier swaai Matsemela en ’n paar van haar trawante die septer. Dit is klaarblyklik ook net as jy in een van húlle se sakke is, dat jy uit die geldkraankie mag drink en vir jou ’n lieflike paleis of twee in die nuwe ontwikkeling kan bou.

Ondanks die feit dat die munisipaliteit bankrot is, leef Matsemela en haar meelopers in absolute weelde. Sy het haarself verlede jaar vir haar verjaardag bederf en ’n rojale R1,5 miljoen op ’n poeierverfpretloop vir die geleentheid uitgegee. Onlangs was sy weer in die nuus oor meer as R200 000 wat betaal is om ’n Mercedes Benz C-klas vir haar te huur nadat haar vorige ampsmotor in ’n ongeluk afgeskryf is.

In 2017 het sy na bewering R70 000 op ’n drie dae lange werksbesoek in Kaapstad uitgegee en in ’n vyfsterhotel tuisgegaan.

 

Dit gaan só beroerd in die dorp dat ’n administrateur onlangs aangestel is. Boonop het die ouditeur-generaal bevind dat meer as R1,17 miljard se onregmatige uitgawes die afgelope drie jaar aangegaan is.

Die inwoners is keelvol vir Matsemela en die dorp is verlede jaar selfs tot stilstand gedwing nadat ontevredenes oor swak dienslewering betoog het en geëis het dat daar van haar ontslae geraak word.

Die situasie is toe op die spits gedryf met die moord op twee ANC-lede in Julie verlede jaar.

Vaaltyn Kekana (54) en Ralph Kanyane is helder oordag doodgeskiet waar hulle in ’n motor op die dorp gesit het.

Inwoners is uitgesproke daaroor dat dié mans vermoor is omdat hulle ’n einde aan die korrupsie wou bring en wou gehad het dat ’n forensiese ondersoek na tenderbedrog gedoen word.

AfriForum het vroeër strafregtelike klagtes teen Matsemela én Charles Malema, hoof finansiële beampte van dié munisipaliteit, oor die beweerde wanbesteding by die Mokopane-polisiestasie in Potgietersrus ingedien. Daar is tot dusver nog geen vordering in die verband nie.

AfriForum is ook betrokke by die saak van die Ndebele Vaaltyn-stam, wat in 2014 strafregtelike klagtes teen die Kanadese mynmaatskappy Ivanplats Myne Bpk. aanhangig gemaak het. Die strafregtelike klagtes hou verband met onwettige mynbedrywighede, oortreding van omgewingswetgewing en die onregmatige en oënskynlike kulturele oneerbiedige hervestiging van die stam se historiese en voorvadergrafte.

AfriForum is in Maart 2017 deur lede van die stam genader omdat hulle bespeur het dat Ivanplats moontlik ongeregverdigde beskerming deur staatsamptenare geniet het. Die mynmaatskappy het ook lede van die stam van sy stamgebonde opstal hervestig om plek te maak vir ’n nuwe stormwaterdrein.

Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo, het aan Forum Nuus gesê ’n staatsgreep het as’t ware in 2014 in Mokopane plaasgevind. “Die dorp was in 2014 een van die top vyf in die land en ons het nou letterlik rommelstatus bereik.”

Volgens Maritz het die vorige burgemeester, William Kekana, puik werk gedoen, maar sedert Matsemela op die toneel verskyn het, het alles agteruit begin gaan en nou stort alles letterlik in duie.

 

Maritz meen Matsemela voer ’n skrikbewind in die dorp. “Dis soos ’n mafia wat hier in beheer is. Onder haar gedy onwettige aanstellings, korrupsie, tenderbedrog, wanadministrasie en wanbesteding. Dit het ’n onhoudbare situasie geword en ons kan maar net hoop iets gaan verander met die aanstelling van die administrateur.”

Maritz en lede van die Mogalakwena Concerned and Affected Communities (MCAC) baklei vir al wat hulle kan teen die ongeregtigheid en agteruitgang. Dit het tot gevolg gehad dat haar naam ook op die moordlys verskyn het en dat sy in ’n stadium lyfwagte moes kry om haar te beskerm. Sy het ook al verskeie dreigoproepe gekry.

Dit gaan so benard in Mokopane dat sommige gemeenskappe letterlik van die hand na die mond leef. “Matsemela het geen empatie vir die mense nie. Inteendeel. Die gemeenskap voel eerder dat hulle deur haar en haar volgelinge geviktimiseer word. Die mense glo dat sy die polisie ook in die sak het omdat sake eenvoudig net doodloop.”

Volgens Maritz help die VF Plus en ander gemeenskapslede om die slaggate te herstel, voetoorgange te verf by die skool, mobiele watertenks te voorsien en kos aan bejaardes uit te deel.

Intussen hoop lede van die MCAC dat die draaipunt met volgende jaar se plaaslike verkiesing sal kom.

Inwoners met wie Forum Nuus gepraat het, sê die ANC kan vergeet dat die mense in die komende plaaslike verkiesing vir hulle gaan stem.

Sam Dipela het tydens ’n onderhoud sommer driftig begin raak. “Die munisipaliteit voel niks vir die mense nie. Hier is geen dienslewering nie. Ons het nie paaie nie. Ons het nie water nie. Ons het F…l. Die dorp se ellende het met die vorige burgemeester, Tlhalefi Mashamaite, begin en nou is Matsemela vir die chaos verantwoordelik.”

Dipela is boos oor die werkloosheid en korrupsie. “Ons weet dat net sekere mense tenders en kontrakte kry. Ek het nie hoop dat die situasie sal omdraai nie. Die premier (Stan Mathabatha) stel dan nie eens daarin belang om na ons besware te luister nie. Dit help dan nie eens ons betoog of bring die dorp tot stilstand nie. Ek wil net vir die regering sê hulle moenie met die plaaslike verkiesing na Mokgalakwena kom nie. Ons gaan nie stem nie.”

Bryner Ngwenya sê ook “ons gemeenskap ly weens korrupsie en wanadministrasie”.

Volgens haar het die munisipaliteit in duie gestort. “Meer as R1,1 miljard is net weg. Hier is nie slaggate nie, dis eerder dongas. Ons het nie water nie en nêrens word bome meer gesnoei nie.”

Sy lê die blaam voor die deur van Matselema en raadslede. “In plaas daarvan om dienste te lewer, ry hulle in luukse motors en bou hulle vir hulle reuse huise.”

 

Alwyn Nyoni sê die burgemeester het nie respek vir die gemeenskap nie. “Sy is ’n boelie en korrup. Niemand kan hulle keer nie, selfs nie die premier nie. Daarom is hy ook korrup. Ons is moeg vir al die probleme en ons wil nie die onafhanklike verkiesingskommissie volgende jaar naby ons dorp hê nie.”

Selomo Motlatso, voorsitter van die MCAC, meen die ANC is vir die gemors verantwoordelik. “Die grondwet is duidelik oor wat op plaaslike regeringsvlak moet gebeur en dit gebeur nie. Niemand luister na ons nie. En mense wat die regte ding wil doen, word helder oordag vermoor.

“Die ANC is slim wanneer dit by verkiesingstyd kom. Dan is hulle meer verenig as ooit. Die mense wat stem gee vir die ANC mag en die mag gebruik hulle later net om onder mekaar te baklei. Maar ek dink die mense begin verstaan wat aangaan. Hulle begin besef dat jy vir mense moet stem wat vir jou gaan werk en sorg dat dienste gelewer word.”

 

Bronwyn van Heerden, ’n sakevrou en apteker op die dorp, sê sy weet nie wat die toekoms van die dorp inhou nie.

Daar is groot probleme en hoe die situasie tans staan wat water en elektrisiteit betref, is kommerwekkend, sê sy. “Ons het reeds twee watertenks by ons huis opgesit en bring water apteek toe as dit nodig is. Ek koop ook drinkwater vir die apteek, want ek kan nie toelaat dat pasiënte en siek mense die water drink nie. Die kraanwater hier is een oomblik deurskynend en dan word dit modderig en geel. Die waterbesoedeling is ’n krisis en al meer mense kom in wat siek voel en oor diarree kla. Ons sien ook kinders met naarheid en braking en dit is van die water.”

Volgens Van Heerden misluk die munisipaliteit klaaglik. “Behalwe geen dienslewering nie, is die strate vol slaggate en werk die ligte ook nie. Ons kry briewe vir agterstallige rekeninge, maar kry miskien een keer in drie maande ’n rekening. Meterlesings word ook nie gereeld gedoen nie.”

Van Heerden sê die mense van Potgietersrus is keelvol vir Matsemela. “Hulle wil haar uit hê. Sy is big talk en no action. Die dorp se ondernemings moes in ’n stadium sluit ná protesoptogte. Ons moes ’n pasiënt Pretoria toe stuur vir medikasie vir suikersiekte omdat ons dit nie kon kry nie.

 

“Matsemela het tydens die optogte gesê sy is hier vir ons, maar toe die massas buite die winkelsentrum is, toe hardloop sy weg. Die mense is bang om iets te sê uit vrees vir viktimisering. Die gevoel is of jy val by hulle reëls in of jou veiligheid kan nie gewaarborg word nie.”

Oor haar en haar gesin se toekoms sê Van Heerden: “Ons kyk na ’n plan B. Ons was al in Australië en daar is ’n aanvraag vir my en my man se kwalifikasies. Maar ons bly nou nog hoop en bid dat dinge uiteindelik sal verander.”

 

Soortgelyke plasings