|

Inwoners van Koster wil dorp saam met AfriForum beter maak

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Inwoners van Koster in Noordwes wil met  AfriForum kragte saamspan en graag hul gemeenskap verbeter deur by selfdoen-aksies en beter veiligheid in hul om omgewing betrokke raak.

Marcus Pawson, AfriForum se provinsiale koördineerder, is deur die gemeenskap genader om hulle te help met opleiding en om die veiligheidsituasie in die dorp te verbeter. “Hoewel die gemeenskap reeds ’n goeie stelsel in plek het, wil hulle deel word van ’n groter nasionale netwerk en beweging om misdaad maklikler en meer doeltreffend te bekamp.”

Pawson het verduidelik dat die gemeenskap tans verskeie uitdagings ervaar ten opsigte van veiligeheid, grotendeels omdat die gesinne in die landelike gebiede ver van mekaar woon. Hy het klem gelê op die belangrikheid van goed gevestigde netwerke en om dit uit te brei en opleiding aan te bied waar nodig is. “Dit is veral belangrik dat die gemeenskap opleiding kry oor watter rol hulle kan speel wanneer noodhulpdienste nodig is of die polisie op ’n toneel is.”

Pawson meen dat AfriForum se doel met hierdie takstigting is om die gemeenskap te laat inskakel by AfriForum se nasionale projekte. Hul betrokkenheid as tak is ook nodig om die nodige druk op die regering te plaas wat versuim om sy pligte ten opsige van plaaslike regering en omgewingsake na te kom.

AfriForum het die gemeenskap genader om ’n stalletjie te beman by die Hoefslag-fees wat Saterdag 26 September op die dorp gehou word. “Om ‘n AfriForum-gemeenskapstak te stig is honderd lede nodig, daarna kan die tak stem vir ’n bestuurtak en funksioneer as deel van AfriForum,” verduidelik Pawson.

“Ons wil mense aanmoedig om deel te word van ’n tak omdat dit belangrik is om georganiseerd te wees en nie as enkele individue ’n verskil te probeer maak nie. “Meer sukses kan bereik word om die regering tot verantwoording te roep as gemeenskappe saamstaan en mobiliseer.”

Belangstellendes wat by die Koster-tak wil aansluit, kan Rika van Staden, wat deel van die Milville-veiligheidsforum is, kontak by  060 369 3215.

 

Soortgelyke plasings