|

Internasionale media fokus op krisis rondom plaasmoorde

’n Televisiespan van die internasionale mediagroep France24 het AfriForum ’n paar maande gelede besoek om die ware feite rondom plaasmoorde en –aanvalle te kry.

Stefan Carstens en Caroline Dumay het na die burgerregte-organisasie se omvattende navorsing gekyk en saam met Lorraine Claasen, navorser, verskeie slagoffers besoek en met hulle onderhoude gevoer.

Carstens en Dumay is korrespondente gebaseer in Kaapstad en het uit hoofde van gereelde beriggewing plaaslik oor plaasmoorde besluit die boodskap moet ook internasionaal meer prominensie geniet.

Volgens Claasen was die twee verslaggewers diep geraak en geskok oor die trauma waardeur slagoffers gaan asook die brutaliteit en aard van geweld wat met die aanvalle gepaard gaan.

Claasen, wat tans besig is om ’n boek te skryf oor plaasmoorde en verskeie kwessies wat daarmee verband hou, het gesê dit moet verwelkom word dat daar verslaggewers is wat bereid is om die boodskap oor die vergrype ook internasionaal uit te dra.

“Sedert die begin van die jaar is meer as 44 plaasmoorde gepleeg. Dit is uiters onrusbarend en bevestig die persepsie wat die algemene publiek het dat die polisie nie misdaad kan beheer nie.

“Veral in die lig van die polisie se onlangse vrystelling van misdaadstatistieke vir April 2014 tot Maart 2015. Dié syfers was nie net verkeerdelik aangepas nie, maar het die publiek se vertroue in die polisie verder negatief beïnvloed.”

Kyk hier na die video:

http://www.france24.com/en/20151002-video-reporters-south-africa-farmers-risk-crime

 

 

Soortgelyke plasings