Huffington Post Suid-Afrika moet AfriForum verskoning vra oor fopnuus

 

Die persombudsman het bevind dat Huffington Post Suid-Afrika AfriForum in die openbaar om verskoning moet vra ná die publisering van fopnuus wat op ’n ernstige oortreding van die perskode neerkom.
Dit volg nadat Pieter du Toit, redakteur van Huffington Post Suid-Afrika, op 30 Julie vanjaar ’n berig genaamd Tumi Morake: A victim of South Africa’s “Bell Pottinger” – Solidarity and AfriForum thrive on ethnic mobilisation and false narratives. Now they have a popular radio presenter in their sights op Huffington Post Suid-Afrika gepubliseer het.
In die berig het Du Toit onder meer aangevoer dat:

  1. AfriForum “employed subtle and polished, but racially divisive tactics to get their message across”;
  2. AfriForum ’n boikotaksie teen die restaurantgroep Spur gedryf het “after a white man was banned from returning to the restaurant when he had been filmed abusing a black woman”; en
  3. AfriForum ’n veldtog teen die nuwe direkteur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) gedryf het “because she wanted to build bridges between Afrikaans and other languages”.

Du Toit het verder aangevoer dat “… AfriForum, who have attacked and vilified [Jakaranda FM aanbieder, Tumi] Morake for her views, can quite easily be compared to Bell Pottinger, the disgraced British public relations firm. Like the Brits from London, the Afrikaner activists from Pretoria employ subtle and polished, but equally racially divisive tactics to get their message across” en dat “Solidarity and AfriForum thrive on ethnic mobilisation through fear and creating a victim complex. And now Morake is the target because she was ‘racist’. Another opportunity to scare whites into joining the two sister organisations by creating false narratives.”
Die persombudsman het bevind dat Du Toit wel die reg het om sy opinies uit te spreek, maar dat daar nie gronde was om bepaalde feitebewerings aan AfriForum toe te dig nie. Huffington Post Suid-Afrika moet ’n verskoning aan AfriForum op hulle webblad publiseer. Die opskrif van die verskoning moet die woorde “apology” of “apologies” en “AfriForum” bevat. AfriForum moet ook die reg gegee word om op Huffington Post Suid-Afrika se bewerings te reageer.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die bevordering van spraakvryheid en persvryheid ’n kernprioriteit vir AfriForum is.

“Dit wil egter voorkom of Du Toit sy rol as joernalis verruil het vir die rol van anti-AfriForum-aktivis. Du Toit het die reg tot sy eie opinies, maar as hy fopnuus publiseer om sy agenda te bevorder is dit ’n oortreding van die perskode en iets wat met die nodige erns aangepak moet word. Daarom beskou ons die persombudsman se uitspraak as ’n oorwinning vir mediavryheid.”

Soortgelyke plasings