|

Hofoorwinning vir AfriForum oor COVID-19-kwarantynkamp

Meer as 100 mense kan uiteindelik die Zithabeseni-kwarantynkamp naby Groblersdal verlaat nadat die hooggeregshof in Pretoria vandag beslis het dat dié COVID-19-kwarantynkamp,  wat nie aan die WGO-standaarde voldoen nie, onmiddellik gesluit moet word.

Onder die mense wat in die kamp gevange gehou is, is die Nel-gesin, wat in Mosambiek vakansie gehou het toe die staat van inperking aangekondig is. Die gesin het ná vyf weke van selfisolasie in Mosambiek na Suid-Afrika teruggekeer. Met hul aankoms by die Lebombo-grenspos het SAPD-lede hulle na die Zithabeseni-kwarantynkamp naby Groblersdal geneem, ten spyte van die gesin se konsultasie met amptenare van die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in Mosambiek. Die gesin is eers agt dae ná hul aankoms by die haglike kwarantynkamp vir COVID-19 getoets.

AfriForum se hofaansoek volg nadat die regering aan aangehoudenes gesê het hulle sal vir 14 dae in die kwarantynkamp aangehou word ten spyte daarvan dat hulle nie weet of hulle die virus onder lede het nie. Die regering het ook geweier om dié mense toe te laat om in selfisolasie by hul huise te bly of hulself op eie koste te laat toets.

Soortgelyke plasings