|

Hof bevind Duduzane Zuma onskuldig op twee aanklagte

Duduzane Zuma (38), seun van oudpres. Jacob Zuma, is vandag in die Randburgse landdroshof vrygespreek op aanklagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Landdros Tebogo Thupaatlase het in sy uitspraak gesê die staat kon nie bo redelike twyfel bewys dat Zuma skuldig is aan strafbare manslag of dat hy op die aand van 1 Februarie 2014 roekeloos en nalatig bestuur het nie.

Die saak het gespruit uit ’n voorval op die betrokke aand toe Zuma met sy Porsche 911 op die M1-suid naby die Grayston-afrit teen ’n minibustaxi gebots het. ’n Vrou, Phumzile Dube, is op slag dood en ander passasiers is beseer.

Daar was aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek, maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om Zuma Jr. nie te vervolg nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het toe tot die saak toegetree ná die Dube-familie die organisasie om hulp genader het. Die NVG het sy besluit om nie te vervolg nie, daarna hersien.

Thupaatlase het die staat en verdediging se weergawes deeglik in oënskou geneem en tot die gevolgtrekking gekom dat daar nie bewys kon word dat Zuma Jr. nie soos in redelike persoon in die omstandighede opgetree het nie.

Hy het in sy uitspraak gesê daar is ook nie bewyse dat hy op die betrokke aand te vinnig gery het nie. Met verwysing na die waterplas op die pad, wat Zuma Jr. getuig het hy nie gesien het nie en veroorsaak het dat sy motor gly, het Thupaatlase toegegee dat die redelike persoon dit ook nie sou voorsien nie.

Hy het ook Zuma Jr. se verklaring voorgelees waarin hy vroeër gesê het dat dit die aand gereën het en dat hy spoed verminder het. Hy het getuig dat hy beheer oor sy Porsche 911 verloor het toe hy ’n waterplas getref het. Hy het daarna ook navorsing gaan gedoen en vasgestel dat motors soos syne ’n geneigdheid het om te gly as dit ’n waterplas tref.

Elias Maangwale, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het in reaksie op die uitspraak gesê AfriForum se doel was om seker te maak dat Zuma Jr. soos enige ander burger teen wie ’n prima facie-saak bestaan, sy saak vir beoordeling in ’n hof moes stel. AfriForum het in hierdie doelwit geslaag en berus by die hof se beslissing.

Zuma Jr. is vandag deur sy pa en familielede in die hof ondersteun.

 

Soortgelyke plasings