|

Hof beveel haglike Covid-19-kwarantynkamp moet sluit

Regter Hans Fabricius het AfriForum se hofaansoek in die hooggeregshof in Pretoria in die saak teen die omstrede Zithabeseni-kwarantynkamp buite Groblersdal vanmiddag ’n bevel van die hof gemaak.

AfriForum het die dringende hof genader in die lig van meer as 100 mense wat geruime tyd in haglike omstandighede in die kamp aangehou word.

Die hof het beslis die kamp moet onmiddellik sluit en die staat het tot 18 Mei tyd om met redes na die hof terug te keer oor waarom die kamp wel as kwarantyn-fasiliteit gebruik mag word. Dit laat die owerheid met twee opsies: om die aangehoudenes onmiddellik huis toe te stuur of hulle na ’n ander geskikte fasiliteit oor te plaas.

Voorts moet die persone wat by die kamp aangehou word en sedert gister vir Covid-19 getoets is se uitslae so gou moontlik aan hul bekendgemaak word.

Dr. Leon Nel, ’n veearts van Midrand, was in ekstase ná die uitspraak.

“Dit is fantastiese nuus en ek hoop ons kan vanaand in ons eie beddens slaap.”

AfriForum het by die kwessie betrokke geraak nadat van die persone wat in die kamp aangehou is die burgerregte-organisasie om hulp genader het.

Nel en sy vrou, Melanie, en hul twee kinders is saam met ander mense aangehou. Die gesin was vroeër vyf weke in self-isolasie in Mosambiek en wou na beraadslaging en gesprekke met die Suid-Afrikaanse owerhede terugkeer.

Hulle is egter by die grens tussen Mosambiek en Suid-Afrika aangesê dat hulle eers na die kwarantynkamp moet gaan.

Nel en verskeie ander meen die geriewe by die kamp is glad nie op standaard nie en hulle het sedert hul aankoms gevrees dat hulle juis daar siek kan word. Die voedsel wat voorgesit is het ook nie vir individue se siektetoestande soos diabetes voorsiening gemaak nie. Van die personeel het aanvanklik ook geen maskers of handskoene gedra nie en daar is nêrens enige bewyse dat die kamp aan die nodige veiligheids- en gesondheidsmaatreëls in byvoorbeeld die kombuis of waskamers voldoen nie.

Die departement van toerisme in Mpumalanga het egter volgehou dat die kamp se geriewe wat hul betref op standaard is.

AfriForum het op 3 Mei 2020 gereël dat ’n span privaat mediese dienste die kwarantynkamp besoek om die sowat 107 inwoners wat nié deur die staat vir Covid-19 getoets is nie, op eie onkoste te toets. Nie net is die privaat mediese span toegang geweier en van die perseel af verwyder nie, maar die SAPD het ook versterkings ingeroep om toe te sien dat hulle nie terugkeer nie.

AfriForum het die hofuitspraak verwelkom.

“AfriForum sal nie toelaat dat hierdie tipe magsvergrype deur regeringsamptenare plaasvind nie. Dit is immoreel dat mense in hierdie kampe aangehou word en die owerhede vir so lank bloot geweier het om hulle vir die virus te toets. Dit is ’n skreiende skending van mense se basiese vryhede. Hierdie mense was vir alle basiese doeleindes gevangenes. Nie net voldoen die fasiliteit nie aan die nodige standaarde soos deur die WGO uiteengesit nie, maar word mense teen hulle wil daar gehou,” sê Monique Taute, bestuurder van AfriForum se Veldtogte-afdeling.

Soortgelyke plasings