|

Hof beslis Schweizer-juffrou mag terugkeer skool toe

“Opgewonde, dankbaar en bly.” Só het ’n oorstelpte Elana Barkhuizen van die Laerskool Schweizer-Reneke, vandag buite die arbeidshof in Johannesburg gesê. Barkhuizen is by ’n rasseherrie betrek nadat sy ’n foto van ’n gr. R-klas geneem en gedeel het.

Sy is as rassis gebrandmerk en in die proses deur die beheerliggaam en Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, geskors. Die vakbond Solidariteit het kort na die voorval ingegryp en met regstappe begin om haar naam in ere te herstel.

“Ek is ongelooflik dankbaar vir elke liewe een wat saam met my die pad gestap het. Geregtigheid het geseëvier.” Regter Connie Prinsloo het bevind dat Barkhuizen onwettig geskors is. Sy mag môre na haar werk terugkeer.

Prinsloo het in haar uitspraak gesê rassisme mag nie geduld word nie, maar daar moet ook nie rassisme gesoek word waar daar nie rassisme is nie. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê ’n onreg is teen Barkhuizen gepleeg en mense wou politieke munt uit die situasie slaan. Die vakbond het geen ander keuse gehad as om vir haar te veg nie.

Soortgelyke plasings