|

Hof beslis Malema en EFF mag nie grondgrype aanhits

’n Interdik is vanoggend in die Pretoriase hooggeregshof teen Julius Malema, omstrede leier van die EFF, en dié party toegestaan nadat AfriForum en AfriSake die hof genader het om Malema en die EFF te verbied om onwettige grondgrype aan te hits.

Die burgerregte- en sakeregtewaghond het die aansoek in November verlede jaar ingedien nadat Malema met sy uitlatings voortgegaan het en verder gedreig het dat die EFF op 6 April grond landwyd gaan beset.

Malema het by verskeie geleenthede ’n beroep op sy ondersteuners gedoen om grond onwettig te beset. By een geleentheid is mense opdrag gegee om veral grond te beset wat naby is aan waar hulle woon. Malema het ook gesê dat die EFF die regskoste sou betaal indien onwettige besetters vervolg of gearresteer sou word.

Tarien Cooks, veiligheidskoördineerder van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie het die EFF verlede jaar op terme geplaas om die aanhitsing van grondgrype te staak aangesien dit ’n strafregtelike oortreding is. Die EFF het op AfriForum se skrywe gereageer en gedreig dat hulle die grond gaan vat sonder enige vergoeding en dat die grond herverdeel gaan word.

“Dié uitlating is direk in stryd met die Grondwet asook internasionale reg. Dit is ’n skending van eienaars se regte en daarom het AfriForum tesame met AfriSake die hofinterdik bekom,” sê Cooks.

“AfriSake beskou privaat grondeienaarskap as een van die hoekstene van ’n florerende ekonomie wat op die vryemarkstelsel gegrond is. Enige bedreiging of ondermyning hiervan sal plaaslike en internasionale beleggers afskrik en tot die vloei van kapitaal uit die land lei,” waarsku Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van AfriSake.

Indien Malema of ’n lid van die EFF nie dié interdik nakom nie, sal hulle van minagting van die hof aangekla word.

Tydens vandag se hofaansoek is die kostebevel in die guns van AfriForum en AfriSake gemaak.

Vandag se hofsaak is nie die eerste of enigste teen Malema nie.

Hy dreig wit mense gereeld en het onder meer verlede jaar gesê dat hy hul vrede wil versteur en dat daar nie vir ’n slagting van wit mense gevra word nie, altans nie nou al nie.

Dít het die sakeregtewaghond genoop om strafregtelike klagtes van aanhitsing teen Malema in te dien.

Malema het in November verlede jaar in die Newcastle-landdroshof op ’n klagte van oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste verskyn. Tydens dié saak het Malema versoek dat die saak vir ses maande uitgestel word omdat hy ’n aansoek by die hoë hof wil indien om dié Wet ongrondwetlik te laat verklaar.

Malema het ook einde verlede jaar in die Bloemfonteinse landdroshof op ’n soortgelyke klagte verskyn nadat AfriForum hom in 2014 strafregtelik aangekla het nadat hy mense in dié jaar tydens ’n EFF-kongres in Bloemfontein aangemoedig het om grond landwyd te beset. Die saak is tot 5 Junie vanjaar uitgestel.

AfriForum en AfriSake is daartoe verbind om mense se grondwetlike regte te beskerm en sal voortgaan om dit te doen.

 

 

 

Soortgelyke plasings