--> -->
Spyskaart +

Hoekom ‘onteiening sonder vergoeding’ nou bespoedig word

Junie 21, 2018 deur Quanette Smith

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Teen hierdie tyd is dit seker al oorbekend dat daar ’n wesenlike gevaar van onteiening (van enige eiendom) sonder vergoeding is. Kortom is daar vroeër vanjaar ’n mosie deur die parlement aangeneem om te kyk na hoe Artikel 25 van die Grondwet gewysig kan word om hierdie onteiening moontlik te maak. Die openbaredeelnameprosesse begin eersdaags en daarna sal ’n komitee deur die bydraes werk. Hulle sal na verwagting teen 30 Augustus daaroor aan die parlement terugvoer gee en aanbevelings maak.

Ek is onlangs tydens ’n radioprogram juis oor die haastigheid en dringendheid waarmee hierdie veldtog aangepak word, gevra. Anders gestel, hoekom word hier met soveel dringendheid nou opgetree terwyl ander (belangriker) brandpunte eerder aandag verg? Die versoeking is groot om te dink dat dit mos maar is hoe normale staatlike en parlementêre prosedures werk – of behoort te werk, altans. Daar is egter baie ander belangriker aangeleenthede wat nie met sulke spoed en doelgerigtheid aangepak word nie. Ek het toe weens tyddruk my bondige siening – dat dit beslis met volgende jaar se verkiesing verband hou – daaroor gegee, maar nabetragting en meer tyd is baie goeie leermeesters.

Dit is wel so dat dit oorhoofs met volgende jaar se verkiesing te doen het. Die EFF het die mosie ingestel nadat Cyril Ramaphosa as president verkies is en die ANC het hul gewig agter die mosie gegooi. Pres. Jacob Zuma was toe reeds weg en die EFF moes iets anders (en radikaal) kry om op te hamer sodat hulle voor die verkiesing relevant en nuuswaardig kan bly. Die ANC, as hul ideologiese geesgenoot en die grootste party in die Nasionale Vergadering, kon nie die versoeking weerstaan om hieraan mee te doen en met die EFF hieroor te kompeteer nie. Dit is deel van die ANC-ideologie en nou het hulle ’n gulde geleentheid gekry om wel die proses aan die gang te kry – al wil dit voorkom dat hulle deur die EFF aan die neus rondgelei word. Hulle is ook te bang dat die EFF redelike sukses daarmee kan behaal – veral op die platteland, waar die ANC nog sterk staan – en stemme by hulle wegrokkel. Meer stemme sal veroorsaak dat die EFF sterker ná die verkiesing staan as wat hulle andersins sou, en hulself aan die ANC kan opdwing oor poste en ander gunste in ruil vir steun. Die ANC sal ook hierdie proses wil “bestuur” – soos wat tans aan die gebeur is – eerder as om die EFF vrye teuels te gee en die situasie tot hul voordeel te gebruik (en misbruik).

Indien onteiening sonder vergoeding nie ’n realiteit word nie (en ons by AfriForum is besig om ons bes te doen dat dit nie gebeur nie) en ’n soort afgewaterde weergawe van die daarvan kry beslag, kan Ramaphosa en die ANC ten minste in die aanloop tot die verkiesing spog dat hulle vordering hiermee gemaak het. As dit wel ’n werklikheid word, is daar soveel meer rede om te spog. Dit sal tewens die EFF tot ’n mate neutraliseer en keer dat hulle genoeg steun trek om gou weer die kwessie van onteiening sonder vergoeding met ywer op die tafel te plaas (in die geval dat dit nie realiseer nie, of op ’n ander manier as volskaalse onteiening sonder vergoeding verwesenlik word).

Maar die ANC doen hierdie nie slegs om die EFF takties uit te oorlê nie. Die feit is dat die ANC nie andersins buitendien veel het om voor ’n verkiesing oor te spog nie. Die Zuma-jare het veral baie skade aan die land aangerig en Ramaphosa doen sy bes, binne die bestek van die ANC-moontlike, om die party van hierdie skade te distansieer. Hy is byvoorbeeld besig om heelwat veranderinge – al is dit net kosmeties – aan te bring sodat dit ten minste lýk asof hy en sy party die Zuma-nalatenskap omvattend afsweer.

Die kwessie van onteiening sonder vergoeding is daarom besig om die diskoers onder politieke partye en die publiek te swaai. Terwyl ons eerstens oor die staatskorrupsie, swak onderwys, vermorsing, lae ekonomiese groei en swak regering moet praat, poog die ANC met hierdie proses om die aandag van hierdie belangriker kwessies af te lei. En die DA het vierkantig in hierdie strik getrap. Al steun hulle nie ’n beleid van onteiening sonder vergoeding nie, is Mmusi Maimane – en trouens, die party – sodanig konstant en prominent besig om oor grondhervorming te praat sodat dit moet voorkom asof hulle dink dit is die vernaamste prioriteit.

Ondanks toon peilings dat grondhervorming eintlik ’n weglaatbaar klein prioriteit onder die breër publiek, en selfs onder swart mense, is. Grondhervorming gaan ook nie die armoede-probleem in die land oplos nie; dit kan dit selfs strem of laat verlangsaam indien dit eiendomsreg aantas. Suid-Afrika is ’n snel verstedelikende land en toegang tot beter onderwys en werkskepping is al wat die deurslag gaan gee. Laasgenoemde sal outomaties tot meer uitgebreide privaat eiendomsbesit aanleiding gee, eerder as wat die regering grond gryp en die bewoners en bewerkers daarvan aan die staat se genade uitgelewer is.

Daar kan nog baie gesê word oor die ander gebreke in hierdie proses, soos waar en wanneer die openbare sittings gehou word. Dit is duidelik dat die koördineerders verskuilde agendas het om sekere segmente van die publiek se lewering van insette te bemoeilik en verhinder om sodoende ’n bepaalde uitkoms te verseker.

As die ANC net met dieselfde ywer te werk gegaan het om die gehalte van onderwys te verbeter, sou hulle werklik iets gehad het om voor die verkiesing mee te spog. Dan sou hulle hulself ook nie met hierdie katastrofale proses hoef besig te hou nie, maar dis nie die geval nie en werklike goeie nuus sou nie sulke opsienbare, skrikwekkende en maklike opskrifte maak nie. Hulle lei weereens aan korttermynisme en soek ’n weerligafleier vir hul eie mislukkings, terwyl die werklike probleme en die oplossings daarvoor agterweë bly.